Sara Lindsey

Vandag se verse bring vir my beide vertroosting en oortuiging.

Hierdie gedeelte van Genesis beskryf hoe God vir Jakob en sy gesin na Egipte gebring het. Dit bring Genesis 15 weer terug in ons gedagtes, toe God vir Jakob se oupa, Abram (Abraham), gesê het: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge in ’n vreemde land sal wees.”

Die huidige verhaal vertroos my, want dit is ’n demonstrasie van God se karakter en sy getrouheid. God kan nie minder wees as wie Hy sê Hy is nie; Hy is onmeetlik en onveranderlik goed en getrou. God verbreek nie sy beloftes nie.

In dieselfde asem spreek dit tot my en oortuig dit my wanneer ek alles in die Bybel lees, want ek weet ek verwag te dikwels dat God aan my tydlyn en volgens my kriteria sal werk. Abraham se nageslag het honderde jare van ballingskap in Egipte deurgebring. Moses het die volk gelei na die Beloofde Land, maar het dit self nooit binnegegaan nie. Paulus, ’n groot leier in die vroeë Christelike kerk, het gely. Hoekom? Hoekom die lang wag? Hoekom die omswerwing? Hoekom die pyn?

Niemand weet nie, behalwe om te sê, ons beperkte verstand kan nie begin om die kompleksiteit van God se algehele plan vir die mensdom te begryp nie. Elkeen van ons se lewens is ’n enkele stukkie van die groot legkaart, ’n enkele stringetjie in die web van verhale. Ons kan dit eenvoudig nie sien of begryp nie.

“Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.” – 1 Korintiërs 13:12

Selfs wanneer die wêreld buite beheer voel, selfs wanneer ons verlate voel, laat ons vashou aan God se belofte dat “alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet, wat volgens sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28). Laat ons op sy plan vertrou; God het Homself deur die eeue heen betroubaar bewys.