Lyli Dunbar

Ons sit in ons pajamas op die rusbank en stories lees en kraakbeskuitjies eet. “Was dit nou nie ‘n wonderlike storie oor Jesus nie? Ons is lief vir Jesus!” roep ek uit teenoor my kleinseun toe ek die Kinderbybel op die koffietafel sit.

Skielik lig die baksteengrootte evangelis wat tussen my en my man sit sy arms op, wys na die  hemel en begin die evangelie opsê: “Jesus is die Seun van God. Hy het uit die hemel aarde toe gekom. Hy het ‘n volmaakte lewe gelei. Hy het aan die kruis gesterf om vir ons sondes te betaal. Hy het uit die dood opgestaan. Hy is nou in die hemel besig om vir ons ‘n plek voor te berei.”

Ons het hom toegejuig en ‘n bietjie tranerig geraak na sy voordrag. Ek wens ek kon krediet daarvoor kry dat ek die outjie geleer het om die wêreld van Jesus te vertel, maar al die eer kom sy dagsorgjuffrou toe. Nadat ons in hom die bed gesit het, het ek en my man op die rusbank gesit en effens skuldig gevoel. ‘n Vyfjarige het so pas die Goeie Nuus baie beter oorgedra as die grootmense wat hom oppas. Hy was nie onseker wat om te sê of bang vir wat ons mag dink nie. Hy het ons bloot ingelig wie Jesus was en wat Hy gedoen het.

Ek dink ek maak dit soms moeiliker om die evangelie te deel as wat dit is. Dis glad nie vir my ‘n probleem om my foon op te tel, my kleinseun se manewales af te neem en vir enigiemand wat wil luister te vertel waarom ek so versot is op hom nie. En tog sukkel ek om my geloof met net soveel vrymoedigheid te deel.

Ek wil my lewe volmaak oorgegee aan Jesus leef en ‘n nalatenskap van geloof agterlaat. Ek wil nie met spyt terugkyk en wens ek het vertel wat op my hart is nie. My hart behoort aan Jesus en my Verlosser het die dood oorwin om my te red. Ek wil volkome toegewyd aan Hom lewe en my mond oopmaak om sy naam te sê. Ek is hier om teenoor dié wat in duisternis verlore is, te getuig dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe is.

Tog voel ek soms asof ek nie die regte persoon is om die evangelie te deel nie. Netnou sê ek iets verkeerd of het ek nie al die regte antwoorde omtrent die Bybel nie. Ek is nie ‘n predikant of ‘n teoloog nie. Hoekom sou God my kies om sy getuie te wees?

Toe ek vanoggend my Bybel oopmaak en Johannes 20 lees, het God met my hart gepraat oor hoe Hy onwaarskynlike mense soos ek gebruik om sy boodskap te gaan vertel. Ons word almal geroep om te vertel wat ons gesien en gehoor het. Die opgestane Jesus kon aan die wetgeleerdes in die tempel verskyn het, maar Hy het nie. God het gekies om die grootste wonderwerk in die geskiedenis te openbaar aan ‘n vrou wie se hart deur haar liefde vir Christus verteer is. Jesus het haar voorheen uit gevangenskap uit die kloue van die vyand bevry (Lukas 8:2). Nou, al het Maria Magdalena gedink haar Verlosser het aan die kruis gesterf, het sy Hom steeds gevolg. Sy het na die graf gekom met ‘n hart wat bereid was om te dien, al het almal om haar uit vrees op die vlug geslaan. Haar liefde vir Jesus het haar die moed gegee om te doen wat sy moes doen.

Waarom het God vir Maria as die eerste getuie gekies? God het haar gewillige hart gesien. Dieselfde vrou wat in trane voor die leë graf gestaan het, het nou van vreugde opgespring en gehardloop om vir die dissipels te gaan vertel: “Ek het die Here gesien!”

Vriendin, as jy opdaag om Jesus te dien, sal Hy jou gebruik. Gaan vertel sy Goeie Nuus aan almal wat bereid is om te luister.