Julie McIlhatton

Deesdae is daar ‘n toename in die gewildheid van lukrake dade van goedhartigheid. Dit mag ‘n goeie daad vir ‘n vreemdeling wees, soos om vir die persoon agter jou in die ry te betaal of om vooruit vir koffie te betaal sodat die haweloses iets warms het om te drink. Ek ken ‘n vrou wat blomme hekel en dit op plekke los vir ander om te kry.

Ander goeie dade is meer intensioneel. Dit behels om te dink aan iemand wat jy ken en om iets vir hulle te doen, soos om ‘n bemoedigende boodskappie vir hul te skryf of om vir hul ‘n geskenk te gee sonder dat hul weet van wie af dit is.

Ek was al die ontvanger van ‘n goeie daad toe ek hoogswanger was met my tweede kind, en my oudste pas twee jaar oud geword het. Ek het ‘n moeilike dag gehad, daar was baie aan die gang op ‘n wyer familievlak, en my emosies was rond en bont. Ek het besluit om my seun uit te neem vir middagete. Toe ek gaan betaal, is daar vir my gesê dat die rekening reeds betaal is. Iemand het my gesien en het besluit om vir my en my seun met ‘n gratis maaltyd te seën. Ek het nog nooit hierdie goedhartigheid vergeet nie.

Net voor vandag se Skrifgedeelte in Markus 12:3-40, waarsku Jesus teen die skrifgeleerdes wat daarvan gehou het om rond te loop in hul swierige kyk-na-my klere, met hul uitvoerige kyk-na-my groete. Vir die skyn, het hulle lang gebede in publieke plekke opgesê sodat almal hulle kon hoor. Hulle het die voorste sitplekke in sinagoges en die ereplekke by feesmaaltye geneem. Hulle het daarvan gehou om raakgesien te word. Tog heeltyd “palm hulle die huise van die weduwees in” (Markus 12:40). Hulle het onregverdig van die armstes en die kwesbaarstes in die samelewing gevat. Jesus sluit af: “Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Dit is in hierdie konteks wat ons vir Jesus en die dissipels aantref waar hulle sit en die offergawekis dophou. Daar was ryk mense wat groot bedrae gegee het. Toe kom die arm weduwee. Sy het so min gegee, maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.” Ek kan hul verwarde gesigsuitdrukkings in my geestesoog sien: nee, sy het nie, sy het net twee koper muntstukkies gegee! Ons het haar gesien!

Jesus het egter hierdie vrou geken. Hy het haar gesien, en Hy het haar vrygewige hart geken. Sy het alles gegee wat sy gehad het om van te lewe! Sy het letterlik haar alles vir God gegee.

God se volk moet vrygewig wees, en die veel groter vrygewigheid weerspieël wat Hy aan ons betoon het. Wanneer ons van die vroeë kerk in Handelinge lees, is ons uit die veld geslaan deur die vrygewigheid van God se volk en hoe hulle na mekaar omgesien het. Selfs tóé was daar egter ‘n egpaar, Ananias en Saffira, wat selfsugtig probeer het om erkenning vir vrygewigheid te verkry, terwyl hulle skelm van die geld wat hulle gemaak het, vir hulself agtergehou het. Toe hulle gekonfonteer word en lieg, het God hul laat dood neerslaan. Die probleem is nie dat hul van die geld gehou het wat hul uit die verkoop van hul grond gemaak het nie. Die probleem is hul bedrog, om geprys te wil word vir hul vrygewigheid, terwyl hul harte nie vrygewig was nie (Sien Handelinge 5:1-11).

Ons moet eelik wees met onsself. Is ons waarlik vrygewig? Bereken ons wat die kleinste hoeveelheid is waarmee ons kan wegkom om te gee? Soek ons erkenning van ander vir alles wat ons doen om mense te help? Wanneer ons bedank word, hoe voel ons?

Hou ons liggies vas aan die tydelike dinge van die wêreld terwyl ons nastreef om vrygewig te wees met alles wat aan ons gegee is? Dit is nie net geld nie, maar ons tyd, woorde, huise, motors, kos, en selfs die beste sitplekke! Ons kan vrygewig wees in ons vergifnis van ander en in ons geduld met ander.

Hierdie vrae daag my uit. Te dikwels beywer ek my vir my eie gemak eerder as om uit my pad uit te gaan om vrygewig teenoor ander te wees. Ek word herinner daaraan dat dit nie is hoe Jesus werk nie. Ek bid dat die Here sal aanhou om aan my hart te sny, om toenemend soos Jesus te word.

Een van my gunsteling ou gesange is When I Survey the Wondrous Cross (Afrikaanse verwerking Liedboek 396 – Aanskou die Heiland, Sien die Kruis), geskryf deur Isaac Watts. Die laaste vers sê:

Were the whole realm of nature mine,

that were an offering far too small;

love so amazing, so divine,

demands my soul, my life, my all!

 In die Afrikaanse lied, is die woorde:

Hom kan ek nou met vreugde dien

in ruimte deur sy kruis voorsien.

‘n Liefde so volmaak en vry

eis alles, alles ook van my

Ons hoef nie al ons besittings weg te gee nie. Maar ons word geroep om vrygewig te wees, wetend dat alles wat ons besit deur God aan ons gegee is om met wysheid te bestuur. God sien wat ons gee en wat ons kies om terug te hou. Hy ken ons harte. Ons word geroep om vroue te wees wat optree in antwoord op die groot vrygewigheid wat God teenoor ons bewys het, deur vrygewig teenoor ander te wees, om ons alles vir Christus te gee.