Brittany Salmon

Terwyl ek in die kweekskool was, het ek in ‘n sendingkantoor gewerk. Een van die voordele van my werk was om internasionaal te reis en te sien wat ons sendelinge in hul gemeenskappe doen. Op een reis was ek in ‘n plattelandse gemeenskap waar die plaaslike sendelinge en pastore na dorpe gegaan het en storievertelling gebruik het om Jesus aan die mense bekend te stel.

Terwyl ons deur een dorpie gestap het, het die leier van ons groep gesê: “Brittany, ons nader ‘n dorpie met vroue en kinders, en ek het gehoop dat jy dalk die verhaal van die vrou by die put met hulle sou deel.” Ek was jonk en onervare, bekommerd dat ek die storie verkeerd sou vertel. Ek was bekommerd dat ek iets sou doen wat hulle kultuur sou oneer of dat ek Jesus dalk op een of ander manier verkeerd sou voorstel. Maar, senuweeagtig het ek ja gesê, met hul versekering dat as ek verkeerd trap, hulle daar sou wees om te help (en ook het hulle my ‘n bemoedigende herinnering gegee dat die Here in beheer is van die vroue se reaksie; dit was bloot my taak om te deel).

Terwyl ons in ‘n kring in die skaduwee van ‘n pragtige boom gesit het, het ek die storie gedeel wat ons vandag in Johannes lees. Ek het vertel van ‘n vrou wat baie van die lewe se hartseer ervaar het, en hoe sy, terwyl sy na die put gegaan het om water te kry, die Verlosser van die wêreld ontmoet het. Deur middel van ’n vertaler het ek hulle gevra of hulle weet hoe dit voel om skande van hul gemeenskappe te ervaar en baie van die vroue het geknik. Ek het hulle gevra of hulle hulle kan voorstel om so skaam en uitgeworpe te voel dat hulle nie meer die veiligheid gesoek het om saam met ’n groep vroue na die put te gaan nie, maar verkies om alleen te gaan. En toe vra ek vir hulle: “Kan julle dink dat die God van hierdie wêreld gekies het om die Goeie Nuus van Jesus te deel met niemand minder nie as ‘n uitgeworpene, ‘n skandalige vrou?” En sommige van hulle het met ‘n tongklap, hul misnoeë aangedui.

En tot hul ongeloof kon ek toe die goeie nuus met hulle deel dat dit nie een of ander sprokie was nie. Ek het verduidelik dat die storie in Johannes nie ‘n mite of ‘n legende was nie, maar dit was so waar en betroubaar soos die grond waarop ons gesit het. Ek kon met hulle deel dat Jesus nie net ‘n “goeie man” was nie, maar die lewende water wat Hy vir die vrou by die put aangebied het, bied Hy vandag ook vir hulle aan.

En dit is die boodskap wat ek ook aan jou bring.

Jy sien, ek dink dat ons dikwels te vertroud raak met gedeeltes in die Skrif. Sommige verhale, meer as ander, word soos volksverhale oorgedra eerder as kragtige verhale wat die manier waarop ons onsself en ons God beskou, vorm. En ek moet bieg dat, toe ek die dorpie binnegestap het om hierdie gedeelte in Johannes te deel, ek daaraan skuldig was. En tog, toe ek daardie dorpie verlaat het, het ek in trane weggestap, nie weens die reaksie van die vriendelike en vrygewige vroue wat ek ontmoet het nie, maar omdat ek gesien het hoe hulle die storie vir die eerste keer verstaan, het dit my gehelp om met nuwe oë na die verhaal te kyk.

En dit is wat ek vandag ook vir jou hoop. As jy vandag jou Bybel oopgemaak het en vinnig deur die storie gesnel het as gevolg van sy bekendheid, mag ek jou aanmoedig om terug te gaan en weer te lees:

“maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” – Johannes 4:14

Dit is goeie nuus, nie net vir die vrou by die put nie, maar vir ons vandag. Dit is goeie nuus, want die God van die heelal bied ons die ewige lewe in Hom. En meer as dit, Hy het gewys dat hierdie ewige lewe nie vir die godsdienstige elite gereserveer is nie, maar dit is vir die uitgeworpenes en verdruktes. Dis vir die vrou wat oor die hoof gesien is, eenkant toe gegooi en geïgnoreer is. Dit is vir die Jood en nie-Jood, vir mense in stede en dorpe, en dit is vir jou en vir my.

Die vrou by die put is ‘n kragtige verhaal omdat dit ons herinner dat niemand te gebroke is vir die verlossende liefde van die almagtige God nie. Alhoewel ons aan hierdie kant van die hemel gereeld putte vind wat opdroog, nooi die Seun van die lewende God ons om lewende water te drink uit ‘n put wat nooit sal opdroog nie.