Ebos Aifuobhokhan

Mense het vir my gesê as ek kan skryf oor die gebeure waarvan ek julle nou gaan vertel, dan beteken dit dat my hart amper genees is. Ek is ‘n skrywer en die een of ander tyd sal ek skryf oor die dinge wat in my lewe plaasgevind het, alhoewel ek oor die meeste van hierdie gebeurtenisse nooit iets deel nie. Om te skryf is my manier om dinge te verwerk.

Op die 8e Mei 2020 het my vader sy aardse woning verruil vir die hemelse om met die Here te wees. My wêreld is deurmekaargegooi. Die tyd het stilgestaan. Die lewe het op een of ander manier vaal geword. In September 2021 het ek met my eerste swangerskap ‘n miskraam gehad. Ek het nie geweet dat daar sulke erge pyn bestaan nie. Toe my vader gesterf het, het ek gedink ek het die diepste pyn ervaar. In die verloop van sestien maande het ek my vader verloor, asook ‘n kind wat ek nooit kon vashou nie.

Liewe vriende, my hart is in stukke geskeur. Ek het geskommel tussen pyn, afgestomptheid, woede, skuldgevoelens, geloof en vrees. Ek het deur ontelbare emosies gegaan. Niemand kon werklik die pyn waardeur ek gegaan het, verstaan nie, behalwe diegene wat ook daardeur gegaan het en selfs toe, het ek alleen in my sielesmart gevoel. Mense wou hê ek moes praat toe ek niks gehad het om te sê nie. Die miskraam was nie my skuld nie, maar ek het skuld en skaamte ervaar dat ek dalk veroorsaak het wat gebeur het of dat ek iets kon doen of nie gedoen het, wat dit laat gebeur het nie. Dit het gevoel asof ek totaal geplunder is. Ek was in ongelooflike emosionele pyn. Ek kon nie verstaan hoekom dit gebeur het nie. Ek was nog nie oor my vader se afsterwe nie, en toe gebeur dit.

Ek het op ‘n Saterdag uitgevind dat my baba dood is en ek is geskeduleer vir chirurgie op die Maandag. Die hele Saterdag was my gedagtes leeg. Ek het gehuil en gehuil en ek het ‘n doodse gevoel gehad. Vir die eerste keer in my lewe kon ek nie bid nie, want om eerlik te wees, ek het nie geweet wat om te sê nie. Ek het vriende en familie om my gehad en toe dit aand word het ek gevra dat almal moet huis toe gaan omdat ek alleen wou wees. Ek is kort tevore getroud, maar my werksverplasing na die provinsie waar my man gewoon het, was nog nie afgehandel nie.

Vroeg Sondagoggend het die Heilige Gees my wakker gemaak en Hy het my gehelp om te bid. Ek het op daardie oomblik hoop nodig gehad. Dinge het gebeur wat ek nie wat ek nie verstaan het nie. Ek het ‘n behoefte daaraan gehad dat my Hemelse Vader iets sê. Ek was desperaat om sy stem te hoor om die versekering te hê dat Hy in beheer was en is. Selfs al het ek dit geweet, wou ek weereens weet dat hierdie gebeure Hom nie verras het nie.

Liewe vriende, ek wou net my Pa hê. Soos ‘n klein kindjie wat pyn ervaar en wat huil net om opgetel en vasgehou te word en verseker te word dat alles reg is en reg sal wees. Dit is wat ek nodig gehad het. Ek het nodig gehad om herinner te word aan sy groot trou wat my nog nooit in die steek gelaat het nie. My grootste vraag was: “Vader, is U daar? Sien U hierdie?”

Die Heilige Gees het daardie Sondagoggend tot my hart gespreek en alhoewel al my pyn nie oombliklik verdwyn het nie, is ek daarvan verseker dat Hy bewus was van my foltering. Ek het sedertdien gewonder wat goeds sal kom uit my miskraam, maar hier is dit! Vandag deel ek met julle en vertel ek vir julle met heelhartige vertroue en sekerheid in my hart dat God getrou is.

Teen die tyd wat jy hierdie lees, sal ek reeds geboorte gegee het aan my reënboogbaba, of ek sal baie na aan my verwagte datum wees. En die feit dat ek hieroor kan skryf aan vroue reg oor die wêreld, wys dat ons Vader vertrou kan word, en dat Hy getrou is. Hy vergeet nie sy kinders nie, selfs nie wanneer ons in die middel van ondenkbare pyn en lyding is nie.

Die genade en krag wat jy benodig, word aan jou beskikbaar gestel. Wanneer jou gedagtes afgestomp is en die intensiteit van wat jy deurgaan jou oorweldig, lees Klaagliedere 3:24 totdat dit insink. Die Here is jou lewe. God is met jou. Hy sal nie toelaat dat enige iets jou hart oorweldig nie. Die lig sal weer skyn, omdat Hy ons nooit in die donkerte inlei nie. Sy sorgsaamheid teenoor ons in grensloos en kan nooit geblus word nie.

Wanneer jy te midde van daardie pyn, onsekerheid, lyding en verwarring is, herhaal verse 21 tot 24 van Klaagliedere 3 saam met my.

Maar dít sal ek ter harte neem

en om dié rede bly ek hoop:

deur die liefde van die Here

het ons nie vergaan nie;

daar is geen einde

aan sy ontferming nie,

dit is elke môre nuut.

U trou is groot.

Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,

daarom hoop ek op Hom.”

God se barmhartigheid is eindeloos. Sy trou is te groot om te tel, uit te put of te faal. Hy is ons lewe, ons God wat in en met ons leef. Ons hoop in Hom kan nooit misplaas of verloor word nie. Moenie toelaat dat die duiwel leuens saai dat jy vergeet is of dat God nie getrou is nie. Sy getrouheid is groot! Soos ek hier skryf, gee daardie feit gee my hart soveel vreugde!

Sê die volgende hardop saam met my: “daarom hoop ek op Hom.”

Liewe vriendin, ek het jou ewig lief.

Shalom van Nigerië.