Lyli Dunbar

Ons het voor middagete ons motor in die sonnige Suid-Florida opgepak en die lang rit aangepak om by tannie Beth in die berge te gaan kuier. Ons was nog skaars weg, toe ek ‘n harde stem uit ‘n klein lyfie wat in die karstoel op die agtersitplek vasgegordel was, hoor teem. “Dit vat te l-a-n-k!”

Ons het nog maar 90 minute van ons 13 uur lange rit afgelê. Ek moes glimlag. Ek wens ek kon my perspektief aan die ongelukkige kind in my sorg oordra, maar ek het geweet hy is nog nie gereed om sy denkwyse te verander nie. In plaas daarvan het ek die radio ingestel op ‘n aanbiddingslied waarvan hy hou en voorgestel, “Hoekom sing ons nie solank nie?” Nadat hy hom ‘n paar minute lank hardnekkig teen my impromptu lofprysing verset het, het hy toegegee en sy misnoeë deur melodie laat wegspoel. Met ‘n glimlag terug op sy gesig het hy ‘n vals “Dankie Here dat U my gered het” uitgebulder.

Ek moet bely dat ek die afgelope jaar meer as een keer “hoe lank nog” tot God uitgeroep het. Ek wens ek kon net ‘n klein kykie van sy ewige perspektief kry. Miskien sou dit my help verstaan waarom Hy toegelaat het dat baie moeilike dinge oor ons gesin kom.

Miskien het jy al, soos ek, gebid dat God dinge in jou lewe moet verander, en dan word jou ergste vrese bewaarheid. Jy voel asof God jou vasgegordel het op ‘n rit wat jy nooit wou onderneem nie, en jy wonder hoekom Hy dit toegelaat het. Soos die Psalmis is jy dalk oorweldig deur bekommernis en wonder jy of God ooit jou gebede hoor.

Vriendin, as ons saam met God wandel, is ons nooit alleen nie—selfs wanneer ons deur ons pyn verblind word. Kom ons volg die patroon wat ons hier in Psalm 13 kry om ons oor die weg te help kom:

“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?”

Eerstens neem ons ons vrae na God toe. Pleks van dikmond wees en swyg, kan ons eerlik wees met God oor ons emosies. Hy sien ons hart en ken ons pyn. Net die Vader van barmhartigheid kan ons regtig vertroosting bring. Daarom kan ons, in plaas daarvan om ons beste vriendin te bel om teenoor haar af te pak of ure aaneen televisie te kyk om ons aandag af te lei, ons benoudheid na God se troon bring.

“Luister tog en antwoord my, Here my God!”

Daarna vra ons God vir bonatuurlike hulp. As ons self ons probleme probeer oplos, gaan dit ons pyn net vererger. In plaas daarvan, moet ons net by God vir ons antwoorde gaan soek. Net Hy kan ons siele nuwe lewe gee en ons van ons nood verlos. Wanneer ons besef dat ons dit nie self kan “regmaak” nie, val ons by sy voete neer en bid dat die Almagtige namens ons sal ingryp.

“Ek hou vas aan u troue liefde.”

Laastens herinner ons ons aan wat waar is. Ons omstandighede mag verander, maar ons God is in beheer. Hy is getrou. In elke seisoen het ons rede om te juig en sy naam te loof omdat Hy ‘n God is wat verlos. Hy het ons van sonde en dood gered, en veg elke dag vir ons. Ons Vader God sal seëvier en op die ou end die vyand oorwin.

Ons hoef nie vandag vir God weg te steek hoe ons regtig voel nie. Hy ken ons en ons kan ons harte uitstort en vertrou dat Hy ons hoor. Sy stilte beteken nie dat Hy afwesig is nie. Ons moenie dat die vyand se planne ons heeltemal van stryk bring nie want God sal ons staande hou. Hy sal ons spoedig ‘n nuwe lied laat sing.