Katie Shott

Ek is nou al ‘n hele ruk klaar met hoërskool, maar ek onthou nog duidelik dat my Engelsletterkunde-onderwyser beklemtoon het hoe belangrik die aanhef van ‘n stuk skryfwerk is en hoe om goed af te sluit. Sy het benadruk dat ons die lesers se aandag moes vasvang, en uiteindelik alles met ‘n bevredigende slot saamvat, sodat die leser wens daar was nog!

Ek dink die apostel Johannes sou ‘n A in haar klas gekry het! As ‘n mens terugdink aan Johannes se inleiding waar hy Jesus bekendstel, wie Hy was en waarom Hy gekom het, gryp dit ons beslis aan. Hier, aan die einde van die boek, mag dit vanuit ‘n literêre oogpunt dalk meer sin maak dat Johannes aan die einde van hoofstuk twintig afsluit—daar’s die opwinding van  Jesus se wonderbaarlike opstanding, sy verskyning aan Maria en die dissipels, sy herbevestiging aan die twyfelende Tomas, wat alles oploop na gister se SOAP-vers dat daar soveel meer wondertekens is wat Jesus gedoen het as waarvan ons weet! Die doel van die boek is dat ons sou glo dat Jesus die Messias is wat die ewige lewe bied wanneer ons in sy naam glo (Johannes 20:30-31)!

Ons kan daarom vra, waarom is daar ‘n hoofstuk 21? Is dit regtig nodig? My kop en my hart antwoord met ‘n dawerende JA! Kom ons vra onsself nou af wat God wou hê ons moes weet toe sy Gees Johannes geïnspireer het om verder te skryf en die boek met hierdie hoofstuk af te sluit!

Jesus verskyn ‘n derde keer sedert sy opstanding op die oewer van Galilea waar van die dissipels, onder Simon Petrus se leiding, weer gaan visvang het. Ten spyte van al hulle bedrewenheid, na ‘n hele nag se werk, het hulle niks gevang nie (Johannes 21:3).

Die volgende oggend, toe Jesus op die strand verskyn, het hy visvangwenke aan hulle uitgeroep. Hulle het die net uitgegooi nes Hy gesê het, al het hulle Hom nog nie herken nie, en die resultaat was ‘n oorvloedige vangs!

Ek kan nie help om op hierdie punt te wonder nie of Petrus ‘n ‘Déjà vu’-oomblik beleef en teruggedink het aan die lewensveranderende gebeurtenis wat Lukas in hoofstuk vyf van sy evangelie opgeteken het: Simon Petrus het heelnag visgevang, niks gevang nie, en Jesus het vir hom visvangadvies gegee wat uitgeloop het op ‘n oorvloedige vangs! Dit was die sleutelmoment in Petrus se lewe, toe hy besef het wie Jesus werklik is, en toe hy geroep is om Hom te volg en mense in plaas van vis te vang!

Hier het ons nog ‘n sleutelmoment in Petrus se lewe. Hy het sy opgestane Here ontmoet, die Een wat hy verklaar het hy tot die dood toe sou volg, maar toe ontken het dat hy Hom ooit geken het.

Petrus is een van die Bybelkarakters met wie ek regtig baiekeer kan identifiseer. Hy is passievol, maar kom in verleentheid. Hy tree oorhaastig op en bedoel goed, maar is heeltemal verkeerd. Hy wil ‘n getroue volgeling wees maar laat (volgens ons standaarde) Jesus in die steek.

Daarom is ek so mal oor Petrus se reaksie toe Johannes Jesus herken en vir Petrus sê: “Dit is die Here” (Johannes 21:7). Petrus pluk onmiddellik al sy klere aan en spring in die meer om terug na Jesus toe te waad, want hy kon nie nog die honderd tree wag dat die boot by die oewer uitkom nie!

In plaas daarvan om weg te kruip en in skuld, skaamte en vrees terug te trek as gevolg van sy mislukking, hardloop Petrus na die Een toe wat roep, liefhet, vergewe, skoonwas en herstel!

Die gesprek na ontbyt tussen Jesus en Petrus was kosbaar. Johannes het geweet hoe belangrik dit vir sy lesers sou wees om te sien hoe teer Jesus drie keer vir Petrus herstel en heraanstel en Petrus se drie verloënings goedmaak.

Kom ons dink ‘n bietjie daaroor na: Toe Jesus Petrus se roeping herbevestig het om ‘n herder van God se mense te wees, het hy nie begin om vir Petrus te vra of hy die kudde liefhet nie. Dit is nie “Petrus, het jy die skape lief waarvoor ek jou roep?” nie. Nee! Jesus het vir Petrus gevra: “Het jy my lief?” (Johannes 21:15)

Liefde vir Jesus is waar alle sending begin. ‘n Lewe in sy diens moet kom uit harte wat oorloop van liefde vir die Verlosser, sodat ons liefde tot uitdrukking kom deur in Jesus se naam uit te reik.

Kan Jesus ons vandag saggies herinner dat ons Hom moet volg, ten spyte van ons mislukkings in die verlede, in die onbekende wat voor ons lê, en opnuut ons liefde wat getroue gehoorsaamheid, toewyding en opoffering sal insluit,  aan Hom verklaar?

Ons gaan Petrus vir eers los en ons bespreking vir vandag klaarmaak met Johannes se afsluiting van hierdie wonderlike evangelie. In sy slotaantekening (Johannes 21:24-25), wou Johannes ons graag herinner dat ons sy getuienis en alles wat hy oor Jesus meegedeel het, kan vertrou omdat hy alles eerstehands ervaar het. Johannes herbeklemtoon dit in sy eerste brief (1 Johannes 1:1) waar hy skryf dat hy verkondig wat hy gehoor, met sy eie oë gesien, waargeneem en aangeraak het.

Ons kan alles glo wat Johannes ons van Jesus vertel want Johannes het ‘sy heerlikheid gesien’ (Johannes 1:14), hy was daar by die kruis en die leë graf, en dit is ‘n betroubare ooggetuieverslag.

O, hoe nodig het ons nie om daaraan herinner te word in hierdie tyd waarin ons leef, waar daar geen absolute waarheid is nie en mense kies om te glo wat hulle ook al pas. God se Woord is ons vaste fondament en ons staan op hierdie onwankelbare waarheid. Johannes het ons bekendgestel aan Jesus wat die enigste weg en die waarheid en die lewe is (Johannes 14:6).

Ten slotte, om by te voeg tot wat Johannes ons omtrent Jesus vertel het en die wonderlike dinge wat Hy gedoen het, sluit hy af met ‘n verklaring dat daar nog soveel meer is wat ons nie weet nie!

Die grootste biblioteek ter wêreld, die Library of Congress in Washington D.C., bevat meer as 170 miljoen items. Dit is niks in vergelyking met wat Johannes ons vertel dat, as alles wat Jesus gedoen het, opgeteken sou word, die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke sou hê nie. Ons aanvaar dat Johannes blykbaar as skrywer hier taal gebruik om die saak te versterk of oor te beklemtoon, maar die punt wat hy by ons wou tuisbring, is dat wie Jesus is en wat Hy alles gedoen het, nie ingeperk kan word deur tyd of ruimte nie.

Hoe opwindend is dit dan nie dat daar altyd vir ons soveel meer is wat ons omtrent ons Verlosser kan uitvind en weet! Ons gaan ons daaraan toewy om…

  • Sy Woord te deursoek
  • Op sy oproep te antwoord
  • Sy weë te soek
  • Sy onuitputlike volheid uit te leef
  • Hom heelhartig lief te hê
  • Na sy beeld omvorm te word
  • Die goeie nuus dat Jesus die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe is, te verkondig

…want ons God is vandag steeds besig om sy verhaal in en deur die lewens van sy mense te skryf!

Halleluja!