‘Gebed is die belangrikste onderwerp in praktiese godsdiens. Alle ander onderwerpe is ondergeskik daaraan. Om die Bybel te lees, die Sabbat te onderhou, na preke te luister, dienste by te woon, aan die Tafel van die Here te sit – dit is alles baie belangrike sake, maar nie een van hulle is so belangrik soos persoonlike gebed nie” (J. C. Ryle, 1816–1900).

 Ek gaan heeltemal eerlik wees. Vir my is gebed die maklikste en terselfdertyd die moeilikste van al die geestelike dissiplines. Dit is maklik omdat dit nie enige spesiale talente van my vereis nie, geen gesofistikeerde woordeskat of dat ek na ‘n spesifieke plek hoef te gaan nie. En tog is dit moeilik, omdat my aandag maklik afgelei word, getrouheid ontbreek en ek dikwels onkundig is oor die gevare van ‘n biddelose lewe. Meermale as wat ek graag wil erken, vergeet ek dat ek ‘n teëstander het wat my dood beplan. God het my toegerus met die wapens wat ek nodig het om terug te veg, maar gebruik ek dit?

Gebed is ‘n voorreg wat ek as vanselfsprekend aanvaar. Dit is ‘n geskenk waarvan ek die waarde soms onderskat. En tog, in tye wanneer ek baie desperaat is, waarmee vind ek myself besig? Om te bid, amper asof dit instinktief gebeur.

Van Adam en Eva tot die apostel Johannes, word gebed dwarsdeur die Woord van God gevind. Die meeste van ons weet dat gebed ‘n gesprek met God is, maar dis soveel meer as net dit. Dit is ‘n geleentheid waar ek gemeenskap met God kan beleef, wat my in staat stel om te eniger tyd tot Hom te nader.

Een van die redes waarom so baie van ons traag is om te bid, is omdat ons nie glo dat gebed belangrik is nie. Ons dink dat ons deur ons dag kan kom sonder die hulp en leiding van God. Ons tree op asof ons sterk genoeg is om versoeking te weerstaan, dapper genoeg om die aanvalle van Satan te beveg, vaardig genoeg om die weë van die wêreld te navigeer en kundig genoeg om die Woord van God op ons eie te interpreteer. Ons glo dat ons selfonderhoudend is.

As ons die lewe van Jesus bestudeer, kan ons nie anders as om op te let hoeveel keer Hy homself van mense onttrek het om tyd saam met sy Vader in gebed deur te bring nie (Matteus 14:23; Markus 1:35; Lukas 6:12; 22:32). Die Seun van God wat storms laat bedaar het, demone uitgedryf het en siekte oorwin het, het die belangrikheid van gebed geken en dit deel van sy daaglikse lewe gemaak. Ons moet sy voorbeeld volg.

Gebed is belangrik omdat dit ons oë op Jesus fokus, ons krag gee, ons nader aan God bring, troos bring, vrede gee en ons liefde vir God aan die brand hou. Gebed is ‘n toevlugsoord in tye van hartseer en pyn, ‘n plek van genesing vir die gehawendes en dié wat seer het. Dit is ‘n tyd om duidelikheid en wysheid te soek; dit is ‘n tyd van lofprysing en aanbidding.

Terwyl ons die volgende paar weke die belangrikheid van gebed bestudeer, hoop ek dat God ons oë sal oopmaak vir die wonder en krag wat ons het wanneer ons sy wonderbaarlike genadetroon nader.