Angela Perritt

Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof! – Psalm 30:12-13

Net God kan rou in dans verander. Net God kan die rouklere van hartseer met vreugde vervang.

Dit is geen toeval dat, terwyl ek Psalm 30 gelees en gebid het oor wat ek in hierdie blog moet skryf nie, ek ‘n oproep ontvang het van ‘n dierbare vriendin wat met my gedeel dat haar pa pas oorlede is. My oë het met trane gevul toe ek hierdie wonderlike man onthou. As iemand wat grootgeword het met wonde van my biologiese pa, het ek daarvan gehou om te kyk hoe my vriendin se pa sy dogters liefhet.

Elke keer as een van hulle by die kamer ingekom het, het hy opgehelder. Hy het drie dogters gehad en hy het in elkeen van hulle verheug. Met drie dogters van my eie, het ek ‘n teer plek vir dogtertjie-pa’s. So baie keer word dogtertjie-pa’s geterg: “nog geen seuns nie” en word hulle gevra: “Wanneer gaan jy weer vir daardie seun probeer?” Ek weet, want ek het al baie keer daardie selfde opmerkings teenoor my man gehoor.

Soos my man, was my vriendin se pa dankbaar vir die kinders wat God vir hom gegee het. Hy was baie trots op sy dogters en hy het dit gewys. Deur die jare het ek gesien hoe hy sy lewe en wysheid in sy dogters belê het, altyd met tere liefde en sorg. Die manier waarop hy na sy dogters omgesien het, vir hulle voorsien het en hoe hy elkeen van hulle toegejuig het soos hulle elkeen hul pad in die wêreld instap, was ‘n pragtige blik op die liefde van God. Omdat ek gesien het hoe my vriendin se pa hom oor haar verheug het, het dit my gehelp om God se liefde vir my en hoe Hy Hom oor my verheug, ‘n bietjie beter te verstaan. Om na sy lewe te kyk, het my gehelp om die begrip van dít wat ek in die Skrif gelees het, te verander van begrip met my verstand na ware begrip met my hart.

Terwyl daar vandag trane en hartseer is oor sy heengaan, verheug ek my ook in die waarheid dat ek, sonder ‘n skadu van twyfel, weet dat ek hom eendag weer sal sien. Selfs in die hartseer van vandag se nuus, weet ek God kan ons gehuil in dans verander soos ons ons verheug oor wat God in hierdie wonderlike man se lewe, sowel as in ons eie, gedoen het. Dit is in tye soos hierdie dat ons kan kies om ons Here met vreugde te aanbid, want ons weet ons sal eendag met ons geliefdes herenig word en dat ons nie meer hulle afwesigheid sal voel nie.

Totdat daardie dag aanbreek, staan ek stil en dank God vir die eer om hierdie dierbare lieflike man te ken. Ek dank God dat Hy hom in my lewe gebruik het om my te help om die liefde wat God vir my as sy dogter het, te verstaan en vir die geleentheid om te sien hoe die Skrif voor my uitgeleef word.

Hartseer kom dalk gedurende die nag, maar vreugde kom altyd in die oggend.

Vanaand gaan ek my aktiwiteite van die dag vroeër eindig en my aanbiddingsmusiek ‘n bietjie harder in my huis speel. Dit is ‘n goeie nag om my Here te aanbid en Hom te dank vir hierdie ongelooflike man se lewe.

Wees Heelhartig Lief vir God,