Brittany Salmon

Het jy al ooit iemand ontmoet wat vrygewig is met hul tyd, hul finansies en hul ondersteuning, maar hulle is nie bang om seker te maak dat jy daarvan weet nie? Of nog erger, dalk hou hulle hul vrygewigheid oor die ontvanger se kop en wag net om ‘n guns in ruil daarvoor te vra. Iemand wie se vrygewigheid eintlik nie vrygewig is nie, maar ‘n instrument van manipulasie?

Ek het. En ek sal jou die besonderhede spaar, maar hierdie tipe “vrygewigheid” lei nooit tot lewe nie.

Maar daarenteen, het jy al ooit ‘n “blymoedige gewer” ontmoet? Iemand wat sy hemp vir jou sal uittrek as jy dit nodig het, en dan sal hulle dit nooit weer ophaal nie. Iemand wat mildelik gee, sonder verwagting van terugbetaling of lof? Hulle het dalk nie baie nie, maar dit wat hulle wel het, word bestee sodat ander kan floreer.

My kinderdae was vol van mense wat hierdie vrygewigheid modelleer. Twee van my gunstelinge is Kenny en Beth wat hul tyd en hulpbronne gegee het om seker te maak dat die kinders in hul gemeenskap geliefd is en sou groei om Jesus lief te hê. Tot vandag toe, wanneer ek tuis by my ouers kuier, kom maak hulle ‘n draai om die vuilgoeddrom vir my pa op te tel, ‘n bejaarde se motor te was omdat hulle gesien het dit kort ‘n was, of hulle kom selfs ‘n tuisgemaakte roomys afgee vir ‘n meisie wat mal is oor Kenny se roomys en dit mis (Dis ek. Ek is die meisie wat van Kenny se roomys hou).

Toe Covid-19 dieselfde gemeenskap getref het, het mense in Kenny en Beth se kerk (dieselfde een wat my ouers bywoon) aangebied om die kelners en kelnerinne in hul gemeenskappe wat ontslaan is en geen inkomste gehad het nie, te ondersteun. My pa het vertel dat hy een van die bestuurders van ‘n plaaslike restaurant raakgeloop het en hy het gesê: “Ek gaan nie regtig kerk toe nie, maar ek sal dalk joune oorweeg.”

Wanneer ek aan blymoedige gewers dink, kom die mense van ‘n klein dorpie in Kentucky-Wes by my op, want ek pluk steeds die seëninge van hul koninkryksgesinde vrygewigheid, selfs al woon ek reeds vir meer as ‘n dekade nie meer daar nie.

In die gedeeltes wat ons vandag lees, word daar baie gepraat oor saai en maai:

“…wie karig saai, sal karig oes; wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” 2 Korintiërs 9: 6-8

 Neem ‘n oomblik om die gedeeltes weer te lees. En nadat jy dit gelees het, wil ek hê jy moet dink oor die kontras tussen die vrymoedige gewers, Kenny en Beth, en die manipulerende gewer in die eerste paragraaf. Die blymoedige gewers is mense wat dit verstaan dat, wanneer Lukas 6 sê “…gee, en vir julle sal gegee word”, dit nie praat van persoonlike, selfgesentreerde winste nie. Dit verwys nie na hoe gee lei tot mag nie. Inteendeel, dit praat van koninkrykswins.

Kom ons kyk weer na 2 Korintiërs 9:8. Waarom het God ‘n blymoedige gewer lief? Want ***diegene wat met ‘n blymoedige hart gee, is mense wat verstaan dat hierdie lewe maar ‘n damp is en ons is daarop ingestel om skatte in die hemel bymekaar te maak. En ek hou daarvan hoe dit in vers 8 sê dat ons God “by magte” is. Sjoe! Daardie klein frase kan ‘n hele preek op sigself wees, maar dit gaan voort. Ons God is in staat om genade in ‘n blymoedige gewer se lewe soveel te laat oorloop dat die genade wat God oor hulle uitstort, dan in hulle lewens gesien word deur goeie werke.

’n Blymoedige hart is nie net tot ons eie beswil nie. Dit is tot voordeel van die Koninkryk. Volgens die Skrif lei ’n blymoedige hart tot ’n lewe van goeie werke, en goeie werke verheerlik ons God in die hemel (Matteus 5:16). Jy sien, blymoedige vrygewigheid is radikaal, en dit is een van die maniere waarop God sy mense gebruik om sy skepping te seën en ander na Hom terug te wys.

Dit is so maklik om in die besigwees van ons dae te vergeet dat “…God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” (Efesiërs 2:10). Dit is maklik om te vergeet dat ons sy Koninkryk bou, nie ons eie koninkryke nie. Maar die voorbeeld van Jesus is om ‘n lewe van vrygewigheid te lei, nie vir ons persoonlike gewin nie, maar tot die eer van sy Naam.

So vandag, vriendinne, waar die Here julle ook al geplaas het, leef mildelik ter wille van sy groot Naam. Vra die Here om in jou ‘n nuwe hart te skep, een wat radikaal gee uit ‘n oorvloed van vreugde. Bid en vra die Here om een manier te openbaar waarop jy hierdie week vrygewig kan wees en ander te wys na ‘n selfs meer vrygewige en liefdevolle Vader wat sy enigste Seun gestuur het om die Verlosser van ons wêreld te wees.