Ek het gevind dat my besluitnemingsvermoë swakker is wanneer ek honger is. Ek is duidelik nie alleen nie, want navorsing het bevind dat, om kruideniersware te koop wanneer jy honger is, lei daartoe dat mens meer kalorieryke-voedsel as gewoonlik koop. Dit lyk asof Esau hierdie selfde probleem gehad het, want hy het ‘n vreeslike besluit geneem toe hy baie honger was!

Ons begin die lyn sien wat na Christus toe lei met sy oorsprong by Abraham, dan na Isak en dan na Isak se seun, maar watter een?

Isak het met Rebekka getrou en na 20 jaar se getroude lewe en gebed, het God vir hulle tweelingseuns gegee! Maar nog voordat hulle gebore is, het die wedywering reeds begin. Terwyl sy swanger was, het God aan Rebekka gesê dat daar twee nasies in haar was en dat die oudste die jongste sou dien.

Toe die seuns begin mans word, was hulle baie verskillend. In Noord-Ierland sou ons die uitdrukking “hulle is soos kryt en kaas!” gebruik het.  Esau was die oudste seun en hy was ‘n ervare jagter met rooi hare. Dit lyk asof hy ‘n wilde temperament gehad het en het eers ingespring en later gedink omdat hy deur sy emosies en gevoelens beheer is. Jakob, die jongste seun, aan die ander kant, het ‘n meer gematigde temperament gehad en was beskaafd, ‘n slim man wat dinge goed deurdink het. Hy het elke geleentheid ten volle benut en het daarvan gehou om tussen die tente te bly, om die kos gaar te maak eerder as om dit te vang.

Eendag het Esau teruggekom by die huis en was baie honger. Die goeie nuus was dat Jakob besig was om rooi lensiesop gaar te maak. Jakob het hierdie geleentheid gebruik om Esau te vra om sy eersgeboortereg aan hom te verkoop vir die skamele prys van ‘n bakkie sop. Verbasend genoeg het Esau ingestem, tog was dit nie net ‘n ligtelike soort ooreenkoms nie. Jakob het hom ‘n eed laat sweer en hy het dit gedoen.

Wanneer die keuse lê tussen ‘n enkele pot lensiesop om aan sy onmiddellike behoefte te voldoen, of sy geboortereg, ‘n toekomstige belofte vir hom en sy nageslag, kies Esau eerder die lensiesop. In Hebreërs 12:16 word Esau se optrede as ‘n waarskuwing gebruik en word hy beskryf as sedeloos en goddeloos om sy eersgeboortereg vir ‘n enkele maaltyd te verkoop.

Wanneer ons na hierdie verhaal kyk, kan ons dadelik die dwaasheid van Esau sien in die keuse van onmiddellike vervulling bo dit wat van blywende waarde was. Maar voordat ons Esau egter te hard oordeel, maak ons as Christene nie ook maar dieselfde dwase keuse wanneer ons die dinge en plesiere van hierdie wêreld groter ag as dit wat ons in Christus het nie? Daar is baie goeie dinge in hierdie wêreld, God het dit immers gemaak. God het ons alles gegee en ons daarmee vertrou sodat ons Hom daarmee kan verheerlik. Maar wat van wanneer ons aandag en tyd daarop gefokus is om meer geld, meer goed, groter huise en motors te kry, eerder as om met God te wandel en sy wil te doen? Wat hiervan sal tot in ewigheid duur?

Die Amerikaanse sendeling, Jim Elliot, het geskryf: “Dit is geen dwaas wat gee wat hy nie kan hou om te kry wat hy nie kan verloor nie.” Hy het geweet dat dít wat die wêreld bied, hoewel dit soms so begeerlik mag lyk, leeg is – die nuwe skepping wat God beloof het, is soveel groter. Jim Elliot se begeerte was dat mense uit alle nasies, stam en taal die Here ken, en hy en sy vriende het gesterf as gevolg van hierdie begeerte. Maar, soos ‘n saadjie wat geplant is, kon diegene wat na hom gekom het, insluitend sy vrou, baie van die stam waarop hulle gehoop het, na die Here lei.

Esau se verhaal hou vir ons almal ‘n waarskuwing in. Ons moet die verbygaande dinge van hierdie wêreld liggies vashou, maar moet ons harte laat neig na die dinge wat tot in ewigheid sal duur. In die gelykenis van die saaier in Lukas 8: 14-15 waarsku Jesus ons ook: “Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”