Ek lees graag oor die geloof van gewone mense. Dit is inspirerend om dwarsdeur Genesis by verskeie geleenthede Abraham se geloof te sien, omdat hy ‘n gewone mens nes ek en jy is. Een so ‘n voorbeeld is in Genesis 24, toe Abraham sy slaaf gestuur het om vir Isak ‘n vrou te soek.

In vers 7 word Abraham se geloof geopenbaar toe hy sy slaaf verseker het dat die Here voor hom uit sou gaan om vir Isak ‘n vrou te kry. Dit is duidelik dat Abraham na aanleiding van hierdie belofte van God opgetree het. Abraham het ook op God se belofte in Genesis 17 gehandel, toe God verklaar het dat Abraham die vader van baie nasies sou wees. Abraham het geleef asof hierdie belofte waar was, want hy het nie daaraan getwyfel dat God ‘n vrou en nageslag vir Isak sou voorsien nie.

Iets wat my dadelik opval, is dat Abraham se besluite berus het op God se beloftes aan hom. Abraham sou nie sy slaaf gestuur het om vir Isak ‘n vrou te soek of seker te maak dat die vrou in sy familie se land gevind word, as hy nie geglo het wat God beloof het nie. Abraham het gekies om God se belofte oor sy lewe met vrymoedigheid toe te eien en ‘n geloofstap te neem. God se beloftes behoort ‘n reaksie by ons aan te wakker. Ek wil glo dat God se Woord waar is en my besluite baseer op wat Hy sê, nie op wat ek dink of wat die kultuur vir my sê nie.

Ek hou daarvan dat God se beloftes, verbonde of ede nie soos ons s’n is nie. Waar ons kontrakte nie altyd bindend is nie, hou God by sy beloftes, selfs al verbreek ons ons s’n. Nie ‘n enkele belofte wat uit sy mond kom, keer onverrigter sake na Hom toe terug nie (Jesaja 55:11). Die grootste vervulling van sy belofte kan gesien word in Jesus Christus, die Messias wat van die heel begin af beloof is (Genesis 3:15).

Hoe meer ek oor die gedeelte van Genesis 24 nadink, hoe meer vreugde put ek uit nog baie aspekte daarvan. Ek hou daarvan dat Abraham, toe hy vir sy slaaf die taak opgelê het om vir Isak ‘n vrou te gaan soek, nie vir hom sê: “Jy moet gaan as gevolg van my vermoë, begeerte en wil” nie. Nee, Abraham sê, “Die Here, die God van die hemel het…my met ‘n eed beloof…” (vers 7). Dit bewys dat Abraham enkel en alleen op die Here vertrou en nie op sy menslike krag, begeerte of motivering staatmaak nie.

Liewe vriend of vriendin, nes Abraham bloot ‘n mens was wat op die waarheidsgetroue beloftes van ‘n getroue God gehandel het, kan jy ook. Die Here verwag nie volmaaktheid van jou nie. Inteendeel, God deursoek die hele aarde na diegene wie se harte volkome aan Hom toegewy is, en versterk hulle. Dit is sy hartsbegeerte om dié wat bereid is om deur Hom gebruik te word en beskikbaar om deur Hom gevorm te word, te gebruik.

Ek is gaande daaroor dat Abraham nie op ‘n gevoel gereageer het nie; hy het gehandel op ‘n belofte van Almagtige God. Jy kan dit ook doen want jy kan weet wat God vir jou sê. Hy het vir jou ‘n boek geskryf, die Heilige Bybel. Boonop kan jy gesonde verwagtings hê omdat jy weet wie jou Vader is. Hy het sy naam aan jou bekend gemaak en vir jou sy karakter in Jesus Christus, die vleesgeworde God, getoon.

Mag jy besef dat die taak waarvoor jy geroep is, groter as jyself is en tereg ook, want namate jy dit nastreef, sal jy, terwyl jy leer om van God afhanklik te wees, die diepste intimiteit met God ervaar. Mag jy, net soos Abraham se slaaf onmiddellik nadat hy sy opdrag ontvang het, God in gebed opgesoek het, vandag erken dat jy God se hulp nodig het (Genesis 24:12). Dan sal jy vrede ervaar omdat jy weet dat God jou gebede beantwoord nog voordat jy klaar gebid het, want jou behoeftes was nog altyd aan Hom bekend. Hy sien jou, hoor jou en tree op volgens wat Hy van jou dink (Psalm 34:16).

Besing dan nou hardop die lof van die Een wat vir altyd sy beloftes nakom. Nie een van sy beloftes sal onvervuld bly nie. Jy kan vol vertroue in geloof stappe neem, want die Een wat jou roep, is getrou, en Hy sal dit doen. As jy van God afhanklik is, sal jy nooit teleurgestel gelaat word nie.