Woede is soos ‘n wolk wat ons rasionele denke en oordeel benewel, en ons perspektief laat verloor. Dit veroorsaak dat ons dikwels slegte keuses maak as ons kwaad is.

In vandag se Skrifgedeelte dink ek Sara was nie net kwaad nie, maar sy het ook jaloers en spyt gevoel. Sy het pas toegekyk hoe Ismael haar seun by ‘n belangrike familievergadering uitlag en sy was woedend. Haar reaksie het ‘n radikale verandering in Ismael en Hagar se lewens tot gevolg gehad.

Sara het maar alte goed geweet Ismael se bestaan was háár idee om God se belofte aan Abraham te help vervul. Van die oomblik af dat Hagar swanger geraak het, het sy daardie besluit berou. Spyt is ‘n sterk emosie; ek is seker Sara het menigmaal gedink: “as ek liewer niks gesê het nie, as ek maar net ‘n bietjie meer geduldig was!”

Nadat sy gesien het hoe Ismael teenoor Isak optree, was Sara keelvol. Sy het geëis dat Abraham vir goed van Ismael en Hagar ontslae moes raak sodat Isak Abraham se enigste erfgenaam sou wees en dat niks in die pad daarvan sou staan nie. Dit het Abraham baie hartseer gemaak.

Dit is waar God ingetree het, en sy reaksie was baie verrassend. Hy sê Abraham moet aan Sara se eis voldoen. God sou vir Hagar en Ismael sorg en ook uit Ismael ‘n groot nasie laat voortkom. Dit help ons om te onthou dat God selfs ons foute kan goedmaak. Abraham moes God egter vertrou deur vir Ismael en Hagar onder sy sorg uit te laat gaan.

God herinner Abraham dat dit Isak was uit wie sy nageslag voortgesit sou word. Die Een wat mense waarlik van hulle sondes sou verlos en hulle mede-erfgename van die belofte maak, sou uit Isak se nageslag voortkom. Volgens Galasiërs 3:29 sluit dit ons in! Ons is afstammelinge van Abraham en erfgename volgens die belofte omdat ons aan Christus behoort. Ons is deel van die gesin as kinders van God!

Toe Hagar swanger was en na die woestyn moes vlug (lees hoofstuk 16:12), het God vir haar gesê Ismael gaan weg van sy broers bly en ‘n wildedonkie van ‘n man wees – wat beteken dat hy vry sou wees en soos ‘n Bedoeïen rondswerf. Vol hoop het sy geantwoord: “U is ‘n God wat my sien.”

Dit kom egter voor asof Hagar daardie beloftes vergeet het en gedink het hulle gaan in die woestyn sterf. Die beskrywing van hoe sy Ismael onder ‘n bos sit omdat sy hom nie wou sien doodgaan nie, het my jare lank laat dink dat hy nog ‘n klein kindjie was! Ismael was in der waarheid al ‘n tiener, waarskynlik tussen 16 en 18 jaar oud. (Abraham was 86 jaar oud toe Ismael gebore is en 100 toe Isak gebore is, dus moes Ismael 14 jaar oud gewees het toe Isak gebore is.)

Nadat Hagar van Ismael af weggestap het, het sy uit hopeloosheid en vrees onbedaarlik gehuil. Op daardie oomblik was daar vir haar geen vooruitsig van ‘n toekoms nie. Toe Ismael sy ma sien huil, het hy ook gehuil en dalk na God uitgeroep. God het weer eens ingegryp en vir Hagar en Ismael hoop gegee. Die Here het vir Hagar herinner dat Ismael ‘n groot nasie sou word. Toe het Hy vir hulle gesorg deur in hulle onmiddellike fisieke behoefte aan water te voorsien.

Ismael het ‘n bedrewe boogskutter geword en God het sy beloftes nagekom. Hy was by hulle en het hulle in die woestyn beskerm. Hagar was nie meer ‘n slavin nie; sy het vir Ismael ‘n vrou in Egipte gekry – die begin van ‘n groot nasie!

As jy sonder hoop is en verlate voel – deur ander of God – herinner jouself aan God se beloftes aan jou. Ek stel voor dat jy dit neerskryf soos jy dit in jou Bybel raaklees. Die Here sien jou en hoor jou uitroep. Hy het jou lief en jy is kosbaar vir Hom. Hy is besig om aan sy planne en voornemens te werk selfs al verstaan en sien ons geen hoop vir die toekoms nie. Ons kan Hom vertrou.

God is getrou. Hy hou sy beloftes selfs al is ons ontrou. Hy kan selfs ons flaters goedmaak. As jy berouvol is, bely dit soos wat vereis word aan die Here en ander, en erken en ontvang dan die Here se vergifnis. Hy maak jou vry deur Christus; jy is ‘n kind van die belofte. Onthou wie se kind jy is en leef in die vryheid wat van Christus af kom!

“Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,

vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,

want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,

so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

So ver as die ooste van die weste af is,

so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders,

so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” Psalm 103:10-13