Ek was ‘n langafstandatleet sedert ek as veertienjarige rondom die baan begin draf het. ‘n Paar jaar gelede het ek aangemeld (en betaal) om die Chicago Marathon te hardloop. Dit was ‘n jarelange doelwit wat ek opgewonde was om te bereik.

Toe ek met die nodige lang oefensessies begin, het ek ‘n migraine ontwikkel wat toegeneem het, beide in frekwensie en erns. Ek het minstens twee keer per week daaronder gely, en ek sou myself dikwels moes dwing om deur te druk en deur die pyn te hardloop. Toe ek aanvaar het dat die verhoogde aantal migraines dalk verband hou met die toenemende aantal kilometers wat ek gehardloop het, het ek mediese advies ingewin.

Ek is meegedeel dat ek sal moet ophou hardloop as ek wil hê dat my migraines moet verbeter.

Ek was verpletter en het geworstel met wat ek moes doen. Ek was mal daaroor om te hardloop. Dit was so ‘n groot deel van my lewe; ek kon my nie voorstel om daarsonder te lewe nie.

‘n Wyse vrou sorg vir haar huis; ‘n vrou sonder wysheid breek alles af”. (Spreuke 14:1).

Wysheid bou ‘n huis. Dwaasheid vernietig wat wysheid opgebou het. Hierdie spreuk is nie ‘n veroordeling nie, maar dit bied iets om te onthou. Ons is altyd besig om óf te bou óf om af te breek. Ons kan nie ons huis bou en dit terselfdertyd afbreek nie. Dis óf die een óf die ander. Ek wou iemand wees wat besig was om te bou. Ek wou beslis nie iemand wees wat besig was om af te breek waaraan ek gewerk het nie.

In vandag se Skrifgedeelte uit Genesis vind ons Abraham in ‘n soortgelyke situasie. Abraham het weereens ‘n koning mislei en bedrieg oor sy verhouding met Sara om sy eie lewe te behou. Alhoewel dit frustrerend is om te sien hoe Abraham ‘n tweede keer dieselfde fout begaan, en weereens die lewe van Sarah, sy huwelik en die vervulling van die belofte in gevaar stel, betrap ons onsself ook dikwels dat ons dieselfde foute herhaal en onsself afbreek in plaas van om te bou. Alhoewel Abraham God wonderbaarlik sien deurkom het om Sara te red, sy lewe te red en oorvloedige hulpbronne aan hulle te gee, het Abraham uit vrees opgetree. Sy vrees het hom tot dwase gedrag gelei, gedrag wat ‘n gebrek aan geloof in God getoon het, gedrag wat amper tot die vernietiging van sy huishouding en die belofte van God gelei het.

Maar Abraham is nie die held van hierdie verhaal nie: God is. Weereens het God ingegryp. Hy het Sara gered, vir Abimelek gewaarsku en Abraham herstel. God het sy krag en beheer oor die skepping van lewe getoon aan ‘n paartjie wat ‘n seun beloof is. As God ander kon weerhou daarvan om swanger te raak, sou Hy inderdaad kon doen wat Hy beloof het en Sara toelaat om swanger te raak. Alhoewel Abraham nie deur God tereggewys word vir sy dade in hierdie verhaal nie, sien ons hoe sy gebrek aan geloof die belofte in gevaar gestel het, hoe hy homself afgebreek het toe hy moes bou.

Ek het vir etlike maande lank ophou hardloop om my liggaam te laat genees. Ek het onwetend myself seergemaak deur aan te hou hardloop. In plaas daarvan om my huis met my eie hande af te breek, het ek gelukkig na wysheid geluister en kon ek dit eerder opbou. In daardie seisoen was die bou om te genees.

Na ‘n paar maande het ek weer begin draf. ‘n Jaar later het ek ‘n volle marathon voltooi. In daardie seisoen was die bou om weer te kon hardloop. Om te bou sal nie altyd dieselfde lyk in elke seisoen van ons lewens nie. Laat ons met onderskeidingsvermoë die wysheid in God se Woord soek en na Jesus as ons gids kyk.

Wanneer ons geloof in God alleen is, nie in ons eie vermoë om onsself te red en te beskerm nie, vind ons lewe en vryheid. God het voortgegaan om in te gryp in Abraham se verhaal en Hy gaan voort om in ons s’n in te gryp, selfs wanneer ons onbewustelik onsself afbreek. Hy is steeds in beheer.