Ek sal nooit die eerste keer vergeet toe ek die verhaal van Sodom en Gomorra vir ander aangebied het nie.

Ek het ingestem om te help om ‘n vrouebybelstudie oor Genesis by die kerk aan te bied. Met my aankoms by die onderwysersopleidingsdag, het ek besef dat ek redelik baie jonger was as die meeste vroue in die vertrek, en ek het bewus geword van my relatiewe gebrek aan ervaring in ‘n vertrek vol wyse en toegewyde onderwyseresse. Die tyd het aangebreek dat ons die gedeeltes moes kies wat ons sou aanbied, en toe die aanmeldblad uiteindelik na my kant toe kom, het ek met afgryse besef dat Genesis 19 die enigste oorblywende gedeelte was.

Maar as daar iets is wat ek al in die kort rukkie wat ek die Skrif bestudeer geleer het, is dit dat wanneer ek ‘n onbekende, ongemaklike of verwarrende Skrifgedeelte in diepte bestudeer, ek altyd verbaas staan oor die skoonheid en goedheid wat onder die oppervlak skuil. Jy leer selfs na ‘n rukkie om dit te verwag.

Die vernietiging van Sodom en Gomorra speel ‘n redelike groot rol in die kollektiewe geheue van die volk van God. Nadat hierdie verhaal in Genesis vertel is, word daar telkemale verwys na die lot van die twee stede as ‘n herinnering aan die dieptes van die menslike verdorwenheid en God se fel oordeel oor sonde.

In hierdie verhaal sowel as dié van die byvrou van die Leviet in Rigters 19 word die sondes van menslike gemeenskappe in detail beskryf. Die heidense stede Sodom en Gomorra het die vreemdelinge in hulle midde mishandel deur hulle te probeer uitbuit en misbruik, net soos die Israelitiese manne van Gibea. Lot wou moontlik die kwesbare vreemdelinge beskerm, maar in die proses het hy sy eie dogters blootgestel aan mishandeling. Die eienaar van die huis in Gibea wou moontlik die kwesbare vreemdeling beskerm wat in sy huis tuisgegaan het, maar hy het dit gedoen deur sy eie dogter en die byvrou van die vreemdeling aan mishandeling bloot te stel.

Die verhaal is hartverskeurend konsekwent, oor tyd en etnisiteit en selfs onder God se mense. Die kwesbaarste mense in die gemeenskap – in hierdie geval vreemdelinge en vroue – word mishandel ter wille van die plesier en gemak van ander.

Esegiël 16:49-50 vertel vir ons uitdruklik wat Sodom en Gomorra gedoen het om die straf wat hulle gekry het, te verdien. “Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oorgehad het nie.” Met ander woorde, hulle het mense wat na die beeld van God gemaak is, misbruik in plaas daarvan om vir hulle te sorg en hulle te beskerm. Hulle het net vir hulle eie plesier omgegee en ander mense uitgebuit vir eie gewin. Dit was duidelik in hulle seksuele uitbuiting, hulle gebrek aan gasvryheid en hulle mishandeling van die armes.

En tog sê God in Esegiël dat Jerusalem selfs erger geword het as Sodom (16:48). God se volk het “hulle gedrag nagemaak en hulle gruwelike dade beoefen” en in “’n kort tydjie” selfs meer verdorwe geraak as Sodom. Ons het genoeg bewyse daarvan in Rigters 19:11-30. Verhale oor sonde word nie aan God se volk vertel sodat hulle hul kan verlustig daarin nie, dit word vertel sodat hulle hulle kan weerhou daarvan om in dieselfde sonde te verval.

Maar soos Romeine 1:16-32 beskryf, is die misbruik en uitbuiting van ander mense nie beperk tot Sodom, Gomorra of Gibea nie. Alle gevalle mense het dwase harte verduister deur sonde, en daarom sal ons mekaar en selfs ons eie liggame misbruik in ons seksuele onsedelikheid, afguns, arrogansie en ongehoorsaamheid. Ons is “vervul met elke soort ongeregtigheid” (1:29),

Maar dit is waar die skoonheid en goedheid inkom.

Ja, die toorn van God word geopenbaar teen al die goddeloosheid van die wêreld (Romeine 1:18). Maar die geregtigheid van God word ook geopenbaar (Romeine 1:17). God se barmhartigheid en goedheid beteken dat Hy nie sy skepping aan sy eie vernietiging sal oorlaat nie.

Christus se versoeningswerk aan die kruis, die krag van God, bring redding vir elkeen wat glo.

Dus, nadat ek baie weke spandeer het aan die bestudering en voorbereiding om onderrig te gee oor hierdie gedeelte, kon my klein groepie vroue deur die verhaal van Sodom en Gomorra loop en nie net die gruwelike boosheid sien nie, maar die oë van die God wat dit alles gesien gebeur het en dit so gehaat het dat Hy die wêreld omgekeer het om dit te stop. Sy toorn is geopenbaar teen Sodom en Gomorra, maar soos Romeine 1:17 leer, het Hy ook sy geregtigheid geopenbaar – ‘n geregtigheid beskikbaar vir ons almal wat glo.

Week 3 Uitdaging:

Wat beteken dit om in geloof te lewe? Leef jy elke dag in geloof? Vra hierdie week vir God om areas in jou lewe te openbaar waar jy Hom nie ten volle vertrou nie. Hoe kan jy hierdie dinge aan Hom oorgee?

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers: