Ek het grootgeword in ‘n onvolmaakte, maar waarlik wonderlike gesin. My ma en pa was lief vir mekaar en hulle was ook innig lief vir my en my broer. Hulle het al ons sportgeleenthede bygewoon, ons het in die aande saam geëet en ons het baie pret gehad. Moet my nie verkeerd verstaan nie, daar was ook parmantigheid en vonke en natuurlik die alledaagse gekibbel, maar van ‘n jong ouderdom af het hulle my geleer wat dit beteken om ‘n gesonde beeld van ‘n familie te hê.

Ek skryf dit alles om die volgende te sê: Sommige van julle wat hierdie lees, het nie daardie selfde ervaring nie. Wanneer julle die woord “familie” hoor, maak dit seer, want waar familie ‘n plek van veiligheid en liefde moes wees, was dit ‘n plek van chaos en verwonding. Ofskoon jy uit ‘n veilige en liefdevolle huis kom, of ‘n gebroke een, God se familie – die een waarin Hy ons aangeneem het – is baie meer glorieryk, veilig en liefdevol as enige iets wat ons harte kan begeer of na smag. Ek dink dit is belangrik om vandag hierna te kyk voordat ons in God se Woord delf.

Ons Skrifgedeelte vir vandag sê: ” In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.” (Efesiërs 1:5-6).

Noudat ek ‘n ouer is, raak hierdie vers my op ‘n ander manier aan, omdat ons beide biologiese en aangenome kinders het. Een van die vrae wat vriende dikwels vir ons vra is: “Is daar ‘n verskil in die manier hoe julle julle biologiese kinders en aangenome kinders liefhet?” Ek geniet dit so om my vriende in die oë te kyk en te sê: “Absoluut nie. My kinders is my kinders. Hoe hulle deel van ons gesin geword het, is verskillend, maar my liefde vir hulle bly dieselfde.”

Net so, wanneer ek sien dat God, my hemelse Vader, wat perfek liefhet, gekies het om ons as seuns en dogters aan te neem, maak dit my bewoë. Want ek weet dat my aardse liefde nie vergelyk met sy perfekte liefde nie. Die plesier wat ek ervaar wanneer ek my kinders – almal van hulle – sien floreer, verflou in vergelyking met die vreugde wat dit God ons Vader bring om ons seuns en dogters te noem.

Dit is goeie nuus, liewe vriende. Diegene van ons wat uit gebroke huise kom, kan hoop en vreugde ervaar in die feit dat God ons aanneem in ‘n diverse en verenigde familie, waar opofferende liefde ons saambind. Diegene van ons wat uit wonderlike gesinne met liefdevolle ouers en broers en susters kom, kan verheug omdat ons ‘n klein kykie ontvang het van die skoonheid wat kom met ons geestelike familie. Dit is goeie nuus vir beide die ryke en die arme, die getroude en ongetroude, die jonge en die oue – Christus het gekom sodat ons seuns en dogters van die almagtige Vader God kan wees!

Wat is ons reaksie daarop?

Kolossense 1:12-13 sê dat ons altyd die Vader met blydskap moet dank want Hy het ons “geskik gemaak om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van die Seun wat Hy liefhet.”

As gevolg van Jesus se offer aan die kruis is ons gered van gebrokenheid en die koningryk van die duisternis. En hierdie familie waaraan ons nou behoort, is een van lig en lewe! Ons is mense van die kruis, maar ook mense van die lig. Uit watter familie omstandighede jy ook kom, spandeer vandag tyd om te verheug en die Vader te dank dat Hy jou uit die duisternis na die lig gebring het.

Week 3 Uitdaging:

Besin hierdie week oor wat dit beteken om burgerskap in die hemel te hê. Hoe beïnvloed jou burgerskap die plek waar jy op aarde woon en werk? Hoe beïnvloed die wete dat jy in Christus ‘n ewige burgerskap in die hemel het, jou lewe vandag?

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers: