Toe ek die eerste keer gegradueer het van universiteit en na ‘n nuwe stad verhuis het, was Sondae my eensaamste dag. Om alleen in ‘n kerkbank te sit of ongemaklik in die koffiekroeg rond te loer in die hoop om ‘n gesprek met iemand aan te knoop, was erg genoeg, maar dit was ná kerk dat ek my familie en vriende die meeste gemis het. Sondagmiddae was voorheen my gunsteling deel van die week, want my gesin het na kerk saam middagete geëet: ‘n tyd om oor die week te gesels, ‘n maaltyd te deel, te lag en stories te deel. Om na kerk alleen huis toe te ry, was altyd moeilik.

Ek het begin om saam met ‘n Bybelstudie-vriendin middagete te eet of my suster op pad huis toe te bel, maar ek het geweet dat ek my kerkfamilie gevind het toe ek besef dat my Sondagmiddae weer vol was. ‘n Groep by die kerk – bestaande uit enkellopendes en egpare, pas uit universiteit of ‘n reeds dekade in hul loopbane, wat op verskillende terreine studeer en werk – het na kerk saam geëet. Ons het soveel geleenthede by die kerk gehad om saam uit die Bybel te leer, maar dit was eers toe ons ‘n maaltyd, ons hulpbronne en ons werklike self, met mekaar begin deel, dat ons aan mekaar behoort het.

Dit was ‘n blik op die werking van die vroeë kerk. Hierdie nuwe gelowiges het hulle nie net toegewy aan die goeie leer (die leer van die apostels) nie, hulle het ook verhoudings met mekaar opgebou, saam maaltye geëet en saam gebid. Handelinge 2 vertel ons dat hulle hul besittings verkoop het om aan diegene onder hulle wat nood gehad het, te gee, hulle het gereeld vergader en hulle het tyd in mekaar se huise deurgebring.

Ons kan vir jare kerk toe gaan en glad nie hê wat hierdie vroeë Jesus-volgelinge gehad het nie. Hulle het nie net bymekaargekom om meer van leerstellings te leer nie, asof mense net rekenaars was wat die regte data benodig om dit reg te laat funksioneer nie. Hulle het lewens saam gebou soos mense bedoel was om te leef en te floreer: saam met vriende, kos te maak en na mekaar se materiële behoeftes om te sien. Hulle het nie die geestelike en die sekulêre verdeel soos ons dit dikwels doen nie. Hulle het besef dat Christen-wees beteken om ‘n mens te wees, om ten volle te leef.

Hierdie verskuiwing het vir my gekom toe my Sondagskool af en toe ‘n huiskos-samekoms begin hou het. Ons het elkeen iets bygedra: kos wat ons liggame gevoed het, dikwels ‘n klein deel van ons opvoeding in die vorm van familieresepte, die soort gesprek wat net by ‘n maaltyd gebeur. Uiteindelik het ons elke week begin bymekaarkom om saam te eet. Nie lank daarna nie, het ek al die ander dinge wat ons vir mekaar begin doen het, begin raaksien: die geld wat ons saamgevoeg het om ‘n vliegtuigkaartjie na ‘n begrafnis van ‘n vriend te koop, bokse wat ingepak en meubels wat na ‘n nuwe woonstel vervoer is, maaltye wat afgelaai is vir ‘n nuwe mamma. Dit is nie deur een persoon georganiseer nie; dit was asof dit die natuurlike uitvloei was van om elke week tyd saam deur te bring.

Vriendskappe is nie onnodige ekstras in die Christelike lewe nie. Dit is deel van wat dit beteken om ‘n florerende gemeenskap te wees, en dit getuig aan die wêreld die waarheid van die evangelie wat ons bely. Handelinge 2:47 sê vir ons dat, terwyl die vroeë kerk hul hele lewe lank saam geleef het, God “mense wat gered word, by die gemeente gevoeg” het. Ons redding is ‘n werk van God, maar Hy verrig die werk dikwels deur sy volk. Dit is nie toevallig dat hierdie ryke beskrywing van die Christelike gemeenskap,  ‘n herinnering daaraan dat God by hulle getalle bygevoeg het, aan die einde ingesluit het nie. Daar is iets ongelooflik aantreklik aan mense wat hul plek gevind het om te behoort.

Een manier waarop ons die waarheid van die evangelie deel, is deur sterk verhoudings en gemeenskappe te soek en op te bou. My groepie bring baie goeie dinge vir mekaar, maar ons frustreer mekaar ook gereeld. Ons verskil oor groot en klein dinge, ons maak mekaar se gevoelens seer, opsetlik al dan nie, en ons bring almal ons eie sonde en hartseer na die verhouding toe. Die wêreld is gewoond aan sulke dinamika, maar wat hulle dikwels verras, is ‘n gemeenskap wat deur hul verskille werk om mekaar te dien.

Ek is vol vertroue dat lede van die vroeë kerk mekaar ontstig het, nie net omdat hulle soos ons, gevalle mense was nie, maar omdat baie van hulle geskille in die Skrif opgeteken is! En tog vertel Handelinge 2 vir ons dat hulle tyd saam deurgebring het, saam geëet het en hul middele saamgevoeg het om vir mekaar te sorg. Hulle was getuies van die versoening wat God in elkeen van hulle harte gedoen het, deur ook met mekaar te versoen. Baie van die wêreld en ons kerke het sedertdien verander, maar die geleentheid om ‘n getuienis vir die wêreld in ons gemeenskappe te wees, het nie.