Ek het in ‘n tradisionele kerk grootgeword met ou kerkbanke en natuurlik die liedereboeke aan die agterkant daarvan. Een van my gunsteling liedere as klein dogtertjie was “Wat ‘n Vriend het ons in Jesus,” nie omdat die lirieke so diep was nie, maar omdat die ryk harmonisering van party ouer dames wat nie ver agter ons gesin gesit het nie, vir my so mooi was. Noudat ek ouer geword het (en nou ‘n kerk sonder kerkbanke en liedereboeke bywoon), het ek nog liewer geraak vir daardie pragtige liedere. Daar is iets spesiaals omtrent die sing van hierdie beproefde woorde wat my ouers en hulle ouers gesing het.

Terwyl ek die gedeelte vir die dag lees, het hierdie ou lied by my opgekom:

“Wat ‘n Vriend het ons in Jesus,
Hy wat in ons plek wil staan;
Wat ‘n voorreg om gedurig
tot Gods troon deur Hom te gaan!


Hoe verbeur ons tog die vrede,
ag, hoe dikwels ly ons smart,
net omdat ons nie ons node
uitstort in Gods Vaderhart!”

Wat het hierdie lied met vandag se gedeelte te doen? Wel, die Fariseërs het vir Jesus probeer vastrek. Hulle het Hom daarvan beskuldig dat Hy met sondaars bevriend is, en hulle was inderdaad reg! Jesus se vriendskap, sy reddende liefde, was nie net bedoel vir die goeie mense met al hulle gesamentlike gemors nie (en dit is steeds nie vandag nie!). Lukas 19:10 sê: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” En Lukas 15:7 sê:

“Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.” Dwarsdeur die Skrif sien ons dat Jesus vriende gemaak het met tollenaars, vroue met kleurryke verledes, mans wat gemoor het (Saulus wat Paulus geraak het!) en baie ander vriende wat die Fariseërs onwaardig geag het.

O, wat ‘n vriend het ons in Jesus!

Hy is die getrouste weergawe van wat vriendskap behoort te wees. Hy is die een wat nie moed opgee met ons as ons foute begaan nie. Hy is die Een wat, soos die gelykenis van die goeie herder, agter die een aan gaan wat van die nege en negentig afgedwaal het. En Hy sit nie net die skaap terug by sy kudde nie; Hy is verheug oor die triomfantlike terugkeer. Hy is goedhartig teenoor die buitestander, en verdedig die swakkes. Sy liefde is onvoorwaardelik, nimmereindigend en kom nooit te kort nie. Ongeag hoe ver ons van Hom af wegdwaal, net een belydenis is al wat nodig is vir sy verlossing.

Om die waarheid te sê, ek voel soms ongemaklik met die idee dat God, ons Verlosser, as ‘n vriend voorgestel word. Ek is baie meer gemaklik daarmee om Hom as ‘n heilige en regverdige Vader te beskou. En tog dink ek my huiwering sê meer oor my kortsigtige siening van vriendskap as die karakter van God. As ek in Lukas 15 lees hoe verheug die Here is oor ‘n verlore siel wat terugkeer huis toe en weer in Lukas 19 dat Jesus gekom het om die verlorenes te soek en te red, kan ek mos duidelik sien dat sy vriendskap ‘n reddende vriendskap is. Dit is immers Christus wat ons heel beste vriend is.

As die wêreld jou dan in die steek laat, of jy jouself versaak, wil ek jou graag bemoedig met die laaste twee strofes van “Wat ‘n Vriend het ons in Jesus” wat in die 1800’s geskryf is:

“As versoeking en beproewing,
of as kwelling ons bedreig,
laat ons nooit mismoedig word nie,
laat ons bedes opwaarts styg.


Nêrens is ‘n vriend getrouer,
as Hy wat ons node weet;
Jesus voel met al ons swakheid,
en wil deel in al ons leed.”


Bring dit in gebed voor die Here, want Jesus is nie net ‘n gawe vriend vir sondaars nie, Hy is ons heel beste vriend.