‘n Paar jaar gelede het ek die geleentheid gehad om die klein dorpie, Marshfield, in Engeland te gaan besoek. Dit is waar my oupa-grootjie grootgeword het. My oupa-grootjie Sam, het in Engeland gewoon tot sy vader oorlede is in 1911. In 1912, toe hy net 15 jaar oud was, het hy ‘n kaartjie gekoop om na Amerika te reis op die Titanic.

My besoek aan Marshfield het ‘n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak. Een van my familielede het baie hard gewerk om die name, geboortedatums, huwelike en sterftes in ons familie op te soek. Hy het lede van ons familie gevind wat so lank terug as 1498 geleef het! Dit was ongelooflik om die huis te sien waarin my oupa-grootjie opgegroei het, die begraafplaas waar my agter-oupa- en ouma-grootjies begrawe is en ook die kerk waar my agter-agter-agter-agter-oupa en ouma (ja, vier agter’s) getroud is.

Dit was die eerste keer wat ek ‘n geslagsregister, soos een van dié wat ons in Genesis lees en wat vir ons verwarring veroorsaak, gesien het waar my naam heel onderaan verskyn.

Ek wonder of die Israeliete dieselfde gevoel het die eerste keer toe hulle gehoor het hoe Genesis gelees word. Ek wonder of hulle dieselfde as ek gevoel het toe ek my naam heel onder aan my familieregister gesien het: onbekend met die name heel bo, maar baie meer bekend met die name en verhale nader aan die onderkant.

Genesis (tesame met Eksodus, Levitikus, Numeri, en Deuteronomeum) is deur Moses geskryf tydens die veertig jaar wat die Israeliete in die woestyn geswerf het. Die Israeliete het geswerf as gevolg van een generasie se ongehoorsaamheid en gebrek aan geloof. Die generasie wat die Beloofde Land binnegegaan, oorwin en daar gaan woon het, is hierdie geskrifte gegee, insluitende die geslagsregisters, as instruksies oor hoe om te leef as God se gekose volk, afgesonder om sy liefde aan die wêreld te wys.

Die verhaal van Tera wat ons in Genesis 11 vind, was die begin van die vertelling van Abraham, die patriarg van die Israelitiese volk. Abraham was die vader van Isak, Isak die vader van Jakob en Jakob (hernoem Israel) was die vader van twaalf seuns wie se nakomelinge die twaalf stamme van Israel geword het. Die Israeliete sou God se getrouheid aan hulle as ‘n volk herken het wanneer hulle die verhale gehoor het van hoe God getrou aan Abraham, Isak en Jakob was. Maar toe die Israeliete opgehou het om hulle kinders te leer van God se getrouheid aan hulle, het hulle gerebelleer en van Hom af weggedraai.

Wanneer ons nie die geskiedenis ken nie, mis ons die geskiedenis van God se getrouheid. Die rede hoekom ons geskiedenis bewaar moet bly, is nie om ons eie name te bewaar nie, maar God s’n. Dit maak nie saak of ons onthou word nie, maar dit is kritiek dat die volgende generasie weet van God se getrouheid en dit onthou.

God se getrouheid is waarop ons ons lewens bou. Sonder sy getrouheid in ons persoonlike lewens, in ons families, in ons volke, het ons geen hoop van verlossing nie. Sonder God se getrouheid, het ons geen versekering dat Hy sy beloftes sal nakom nie. Maar ons God is onwrikbaar getrou.

Toe ek die huise en kerke van my voorsate gesien het, was ek oorweldig met die besef van God se getrouheid. Dit het my oorweldig om te dink dat, terwyl hulle hul lewens gelei het in Marshfield, Engeland in die 17, 18 en vroeë 1900’s, het God geweet dat ek eendag op hierdie aarde sal wandel.

God het selfs al die dae van my lewe geken toe my oupa-grootjie sy kaartjie vir die Titanic gekoop het. Gelukkig het hy sy planne verander, en na Amerika gereis op die Olympic, wat van Engeland af weggeseil en in Amerika aangekom het kort voor die Titanic gesink het. Praat van God se soewereiniteit en getrouheid aan ons familie! Hy was toe getrou en Hy is inderdaad nou getrou.

My gunsteling professor op kweekskool sê altyd: “God se getrouheid in die verlede is ‘n model en ‘n belofte van sy getrouheid in die toekoms. Maar Hy is té kreatief om dieselfde ding twee keer op dieselfde manier te doen.”

Hy was getrou in die verlede. Hy is vandag getrou. En ons kan met verwagting wag op die unieke wyses waarop Hy sy getrouheid en kreatiwiteit in die toekoms sal wys. Hy ken al die dae van jou lewe. Self vandag. Jy kan vertrou en rus in sy getrouheid.