Het jy al ooit daardie een ding gesoek wat jy gedink het die lewe vir jou makliker gaan maak, en dan besef jy dat jy eintlik iets anders nodig gehad het?

Ek doen dit gereeld.

Dit kan iets so kleins wees as om te dink dat om te gaan stap gaan help om my kop skoon te kry, net om te besef dat ek eintlik nie die oefening nodig gehad het nie. Ek moes net buite in die natuur kom! Baiekeer betrap ek myself dat ek op sulke “wandelinge,” sit en staar na ‘n boom of ‘n paar eekhorings wat in die bome in ons buurt rondklouter, in plaas van om te stap! Om die waarheid te sê, betrap ek myself dat ek dit op ander maniere doen wat nog minder help. In spanningsvolle tye soek ek troos in kos. Of partykeer maak ‘n aanlynkopie my vir ‘n rukkie bly, maar ek weet dat daardie blydskap ook van korte duur gaan wees.

Verslawing. Materialisme. Skinder. Vraatsug. Trots. So dikwels is ons op soek na een ding en sit dan op die ou end met iets heel anders.

Ek hou baie van hierdie Skrifgedeelte in Markus 16 omdat Maria op soek was na een ding, maar sy het iets anders gekry. Maria was bedroef oor Jesus se dood en het speserye gebring om sy liggaam te balsem en te versorg. En dit is waar die verhaal regtig mooi raak. Sy het ‘n liggaam wat stil lê in die graf gaan soek: wat sy aangetref het, was ‘n leë graf.

Wat sy aangetref het, het nie net haar lewe nie, maar ook die hele wêreld verander.

Daardie leë graf beteken dat ons mag het oor die vestings waarin ons troos soek. ‘n Leë graf beteken dat al die dinge wat die wêreld ons bied as vertroosting, vervaag in teenstelling met wat daardie leë graf vir ons bied. Christus, die opgestane Koning, het nie net vir ons sondes gesterf nie. Hy het vir ons sondes gesterf en Hy het opgestaan uit die graf. En as gevolg van die krag van sy opstanding, het ons nou deur Christus die mag om te stry teen sonde en die versoekings waarvoor ons te staan kom.

Vriendinne, die leë graf was nie wat Maria verwag het nie, maar ek dink as ons eerlik met onsself is, is die krag wat dit bied ook nie wat ons vandag verwag nie. Dit is nie sommer ‘n alledaagse Bybelverhaal nie, dit is ‘n lewensveranderende, seëvierende simbool van wat God gedoen het en steeds deur die hele mensdom doen.

Luister wat sê die Skrif oor die mag wat deur Christus kom:

Johannes 10:10 sê, “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

1 Johannes 5:3-4 sê, “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.”

Romeine 8:37-39 sê, “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Nog ‘n vertaling stel dit só: dat ons deur Christus besig is om “‘n klinkende oorwinning te behaal”; as God vir ons is, wie kan dan ooit téén ons wees? (Romeine 8:31, 37 NLV).

Die opstanding van Jesus verander alles.

Maria het die dood gaan soek, en die opgestane Here gevind. Sy het gaan soek na iets om haar smart te vertroos, en sy het lewe gevind. Wat dit ook al is wat jy vandag soek, waar jy ook al vertroosting en waarde probeer vind, verbleek in vergelyking met wat die leë graf bied.

Vriendin, daardie ding waarnatoe jy jou wend in plaas van Jesus? Gaan lê dit aan die voet van die kruis neer. Daardie gewoontesonde waarin jy tydelik bly troos soek? Jy is meer as ‘n oorwinnaar deur die krag van die opgestane Jesus Christus. God het bewys dat Hy vir ons is deur die krag van die leë graf; wat kan dan teen ons wees? Daarom bid ek vandag dat jy sal toeëien wat deur die opgestane Christus regtens joune is: lewe en dit in oorvloed.

 

Liewe vriende, dankie dat julle hierdie studie saam met ons gevolg het. Dit is ons gebede dat julle baie uit hierdie in-diepte studie van God se Woord geleer het, dat julle geloof versterk is en dat julle nader aan ons Hemelse Vader gegroei het.

Ons het spesiaal vir julle vyf sluitskerms met verse uit Markus ontwerp, wat vir julle ‘n herinnering en ‘n aanmoediging kan wees.

Die skakel vir elke sluitskerm is onder elke prentjie.

 

https://www.dropbox.com/s/62wgpsanx5lytnq/Markus%205%3A34.png?dl=0

https://www.dropbox.com/s/idh08djuz3yys1w/Markus%208%3A36.png?dl=0

https://www.dropbox.com/s/wdqk813wxzdh3o0/Markus%2012%3A30.png?dl=0

https://www.dropbox.com/s/qwjtgnvmksghnjx/Markus%2013%3A31.png?dl=0

https://www.dropbox.com/s/syigty140wv33rc/Markus%2016%3A15.png?dl=0