Die feit dat God Jesus nie van die kruis gered het nie, is een van die moeilikste waarhede om te aanvaar. Jesus het die ondenkbare gewillig en gehoorsaam verdra sodat ons dit nie hoef te doen nie. Daar was geen kortpad na die kruis of ‘n vermindering van die pyn wat ons Heer moes verdra nie.

Die waarheid is, Jesus het gely aan die kruis. Hy is gespot terwyl Hy gesterf het. Die drome en hoop van honderde mense het daardie dag saam met Hom gesterf. Drome van ‘n beter toekoms. Hoop op die langverwagte Messias. Hulle het geweet dat beter dae sou aanbreek. ‘n Nuwe koninkryk het begin. Die gewag, afwagting en geslagte van gebede is uiteindelik beantwoord, of so het hulle gedink. Toe sterf Jesus ‘n genadelose dood en hulle hoop en drome het saam met Hom gesterf.

Daar is ‘n valse lering wat algemeen aanvaar word in baie van ons kerke wat ons leer dat as ons in God se wil lewe, alles goed sal gaan. Ons sal gelukkig, gesond en suksesvol wees. Tog, as ons na Jesus se lewe kyk, sien ons dat dit nie waar is nie. Jesus het gely en gesterf en dit was God se wil. Ons moet groei in ons begrip en geloof in God en sy goedheid, sodat ons hierdie waarheid kan aanvaar: om in God se wil te wees, is nie altyd ‘n “gelukkige” plek om te wees nie. Dit “voel” dalk nie altyd goed nie en dit lyk baie keer nie “suksesvol” vir die wêreld nie. Soms beteken om in sy wil te wees, om te ly. Soms beteken dit dat ons bespot sal word, soos Jesus aan die kruis. Soms beteken dit dat ons verkeerd verstaan sal word. Ander kere beteken dit dat diegene wat die mag het om vir ons op te staan en die ongeregtighede te voorkom, dit nie doen nie. Tog het God die krag en die vermoë om die goeie te bewerkstellig in daardie donker tye, selfs in die sondes van ander se aksies of passiwiteit.

Ons sien hierdie waarheid duidelik in Markus 15:25-27. Selfs terwyl Hy besig is om te sterf, bring Jesus nog steeds eer aan sy Vader. Hy kon gekies het om kwaad te wees en diegene aan te vat wat Hom aan die kruis vasgespyker het. Hy kon beledigings teruggeslinger het vir diegene wat Hom bespot het. Hy kon engele uit die hemel geroep het om dié wat  verantwoordelik is, te gee wat hulle verdien. Hy kon die liefde bevraagteken van diegene wat daar naby stil gesit en huil het. Hy kon in wraak en haat gereageer het.

Tog het Hy nie.

Jesus het gekies om diegene wat Hom aan die kruis vasgespyker het, te vergewe. Hy het nog steeds aan ander en hul toekoms sonder sy fisiese teenwoordigheid in hulle lewens gedink en Hy het seker gemaak dat daar na hulle omgesien sal word. Deur te kies om lief te hê in plaas van te haat, openbaar Jesus wie Hy was: die Seun van God. Deur dit te doen, het een van die rowers vir die eerste keer gesien wie Jesus was en sy lewe aan Hom gegee. Terwyl die wêreld ‘n nederlaag gesien het, het God alreeds ‘n oorwinning gesien.

Ons as Christene moet ons gedagtes oefen om oor die lewe te dink en dit te sien soos God dit doen. Ons moet besef dat soveel van ware Christelike sukses, soos ‘n nederlaag lyk. Om jouself te verloën. Die oorgawe van ons wil tot God se wil. Om te onthou dat die eerste laaste is en die laaste eerste.

Moenie moedeloos word as die wêreld jou spot soos hulle Jesus bespot het aan die kruis nie. Ons kan nie van hulle verwag om ons maniere te verstaan nie. Omdat daar met ons gespot word, beteken dit nie dat ons is wie hulle dink ons is nie. Hulle sien ons dalk as mislukkings, maar God sien ons as meer as oorwinnaars.

Ja, Jesus is bespot, gemartel en het aan die kruis gesterf, maar dit was nie die einde van sy verhaal nie. Dit is ook nie ons s’n nie. Ons moet ophou om na die wêreld te kyk vir aanvaarding, bevestiging en waarde.

Ons moet onthou dat ons ‘n OPGESTANE Verlosser dien.

Alhoewel sy fisiese dood as ‘n nederlaag beskou word, was dit in werklikheid die grootste triomf van die geskiedenis en presies volgens God se plan.

Niks in die hemel of op aarde kan God se verlossingsplan dwarsboom nie.

Hê God Groots Lief!