“En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.” – Markus 13:10-11

In Markus 13 gee Jesus ‘n paar profesieë. Hy voorspel die komende vernietiging van die tempel, misleiding deur vals leraars en profete, wêreldwye rampe en verdrukking vir gelowiges.

Jesus het vir die dissipels gesê die geskiedenis sou gekenmerk word deur meedoënlose swaarkry vir dié wat in Hom glo. Hierdie swaarkry sal aggressief en geleidelik vir gelowiges toeneem tot sy terugkeer vir sy volk met die Wederkoms.

Gelowiges gaan aan vervolging en moontlik selfs marteling onderwerp word. Jesus het nie doekies om hierdie werkliheid gedraai nie. Tog, ten spyte van die vervolging, is ‘n gelowige daartoe geroep om die evangelie in liefde aan verlorenes mee te deel.

Die kerk, Jesus se bruid, word geroep om die evangelie aan alle nasies te verkondig en in afwagting op Christus se wederkoms te leef. 

Dwarsdeur Jesus se bediening het Hy altyd die sondaars se behoefte aan sy vrywillige offer aan die kruis, beklemtoon. Dit was die hoogtepunt van sy uiterste gehoorsaamheid aan sy Vader – om sondaars met God te versoen. Jesus het nooit sy boodskap of sy bediening gekompromitteer nie.

Dit was nie vir Jesus maklik om Homself aan die kruis te offer nie. Al was Hy in alle opsigte volmaak, het Jesus doodsbenoud in die Tuin van Getsemane gebid dat God Hom die foltering, pyn en las van sy komende kruisiging moes spaar (Matteus 26:36-46; Markus 14:32-42; Lukas 22:39-46). Tog het Jesus gewillig voortgegaan.

Jesus het aan die kruis getriomfeer omdat Hy verby die ontsaglike foltering en pyn gekyk, en nooit die vreugde wat op Hom gewag het, uit die oog verloor het nie (Hebreërs 12:2).

As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem. Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie. – Johannes 15:18-21

Vir gelowiges is die pad wat Jesus geloop het, die enigste weg na God se heerlikheid.

As gelowiges stap ons in Jesus se voetspore as ons onsself verloën, daagliks sy kruis opneem en Hom gehoorsaam volg (Lukas 9:23-24; Matteus 16:24-25)

Om met Jesus vereenselwig te word, beteken om vervolg te word, te ly, gehaat, uitgelag en verwerp te word, verstoot, bespot en heel moontlik doodgemaak te word.

Nee, dit is nie maklik nie.

Nietemin, soos Jesus kyk ons verby die tydelike vervolging na die vreugde van ‘n ewigheid in die hemel saam met God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.

God se beloftes en sy ewige beloning is waar, of ons dit duidelik sien of nie.

Jesus is steeds Koning, ongeag of ons sy ooglopende werk in ons lewe kan sien, en of dit verborge en onverklaarbaar is.

Solank ons aan God gehoorsaam is, sal ons aan swaarkry onderwerp word.

Solank ons God dien, sal ons teëstand ondervind.

Solank ons aan God getrou bly, sal ons vervolging verduur.

Teëstand, haat en vervolging sal ‘n voortdurende stryd wees waaraan gelowiges onderwerp word.

Nietemin kan gelowiges seker wees dat niks ooit erger kan wees vir diegene wat Jesus volg, as enigiets wat hier op aarde gebeur nie.

In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. – 2 Korintiërs 4:8-10

Net soos Jesus verby die kruis gekyk het na sy ewige heerlikheid, moet ons ook.

‘n Gelowige se lewe moet sentreer rondom ons missie vir God: om die evangelie aan die verlorenes mee te deel, ongeag hoeveel pyn en opoffering dit van ons mag vra.

Mag ons, as gelowiges, ‘n volk wees wat so vas staan in ons goddelike oortuiging dat ons weier om kompromieë aan te gaan of van koers af te wyk, en onwrikbaar by ons missie hou om Jesus in liefde met die wêreld te deel.

Wanneer ons vervolg, platgeslaan en van alkante verdruk word, mag niks anders uit ons harte, ons dade en ons monde voortkom as die Goeie Nuus van Jesus se dood, begrafnis en opstanding nie.

Genade en vrede vir jou,