Bid Saam met Ons vir Mianmar!

Liewe vriende,

Ons vra vandag dat julle saam met ons sal bid vir die situasie in Mianmar. Ons dierbare susters verduur baie ontberinge as gevolg van die militêre oorname en geweld in hulle gemeenskappe. Baie lede van ons Love God Greatly Birmaanse span woon in stede en dorpe oral deur die land en hulle ervaar baie moeilike omstandighede. Bid asseblief saam met ons vir ons span, hulle gemeenskappe en die land as ‘n geheel.

Wat Gebeur:

  • Elke dag word baie vreedsame betogers op straat doodgemaak. Hulle is meestal jong mans tussen 14 en 25 jaar oud.
  • Banke en kitsbanke is gesluit en mense het geen toegang tot hulle geld nie. Winkels mag nie kredietkaartbetalings neem nie en baie mense is bekommerd oor wat hulle sal doen as hulle nie meer kontant het nie.
  • Daar is ‘n konstante militêre teenwoordigheid in die strate, selfs in die plaaslike gemeenskappe.
  • Alhoewel daar ‘n konstante bedreiging in die stede is, is die bedreiging in die dorpe en platteland baie meer. Daar is al vir geruime tyd geen kontak met baie mense wat in kleiner dorpies woon nie.
  • As gevolg van die grense wat gesluit is as gevolg van die pandemie, word niemand toegelaat om die land in te kom of te verlaat nie, insluitende buitelandse hulp, joernaliste en sendelinge.

Maar daar is hoop . . .

  • Die mense is verenig. Elke aand slaan hulle op potte en panne om eenheid te wys en protes te toon teen die militêre staatsgreep.
  • Die landsburgers het nie wapens nie, maar baie van hulle bou versperrings in hulle buurte.
  • Daar is tans geen spesifieke vervolging teen Christene nie.
  • Plaaslike kerke is in staat om dienste te hou, hoop te bied en lewensmiddele aan hulle gemeenskappe te voorsien.

Hoe Jy Kan Bid:

  • Bid asseblief vir veiligheid en beskerming vir die mense in Mianmar.
  • Bid vir die veiligheid en beskerming vir ons LGG Birmaanse span.
  • Bid dat die landsburgers toegang tot hulle geld sal hê sodat hulle lewensmiddele en kos sal kan bekostig.
  • Bid teen vrees, vir geestelike en emosionele stabiliteit en vir vreugde te midde van lyding.
  • Bid vir die vrede van Christus om oor die woonbuurte en dorpies waar baie geweld ervaar word, te heers.
  • Bid dat plaaslike kerke goeie leiding sal kan gee en in staat sal wees om fisiese hulpbronne aan hulle gemeenskappe te kan voorsien.
  • Bid dat God die Christene in Mianmar se geloof sal versterk en dat Hy baie mense na Hom toe sal lei deur hierdie krisis.
  • Bid dat God hoop sal gee aan die mense wat ly.
  • Bid dat die gelowiges dapper sal wees om die evangelie met mense op straat te deel, asook met diegene wat in hegtenis geneem is.
  • Bid dat God die voorraad wat mense nodig het, insluitende kos en medisyne, sal voorsien.
  • Bid spesifiek vir ons LGG Birmaanse tak, dat hulle in staat sal wees om hul vertalingswerk te kan voortsit, sodat hulle kan voortgaan om Bybelstudies vir mense wat Birmaans praat, te skep en aan hulle die hoop van die evangelie te kan bied.

Ons is so dankbaar vir ons Love God Greatly gemeenskap wat so omgee en ondersteunend is! Dankie dat julle saam met ons bid vir Mianmar en vir die Love God Greatly Birmaanse tak! Om meer te leer van die LGG Birmaanse tak, kyk hier! 

Indien jy ‘n donasie wil maak om ons Birmaanse tak te help, besoek asseblief ons donasie bladsy hier!