Soms gaan ek na ‘n donker plek in my siel en dan sukkel ek met gevoelens van ‘nie-genoeg’ wees nie. Ek sal snags in die bed lê en worstel met donker gedagtes. ‘n Sinistere stem fluister vir my: “Jy is nie geliefd nie. Jy sal nooit genoeg wees nie. Jy kan net sowel opgee.”

O, daardie leuens uit die put van die hel! My sielevyand wil my demoraliseer en desperaat maak. Hy wil hê dat ek moet toegee aan wanhoop en wonder of God my vir altyd verlaat het. My teëstander sal nie ‘n steen onaangeraak laat om my te vernietig en van my vrede te beroof nie.

Hier is die waarheid: Ek verdien nie God se liefde nie, maar my God sit op ‘n troon van genade. Hy stort sy oorvloedige liefde roekeloos uit, en sy onvoorwaardelike liefde bedek al my sonde. Hy het vlees geword en my smaad aan die kruis gedra, en al my oortredinge verdryf so ver as die ooste van die weste is. Ek is ten volle vergewe en vry van alle veroordeling.

Ek hoef nie genoeg te wees nie, want die Voorspraak wat in my is, is groter as die teëstander wat in die wêreld is. Ek is as deel van sy gesin verander in ‘n nuwe skepsel.

Wanneer skaamte ons gemoed met ellende probeer vul, moet ons die wonderwerke van genade wat God in ons lewens verrig, onthou:

  • Ons Redder het ons hulpgeroep gehoor, ons uit die put van die sonde gelig en ons voete veilig op die rots geplaas (Psalm 40:1-2).
  • God het ons vrygemaak van die doodsvonnis oor ons en sal aanhou om ons te bevry (2 Korintiërs 1:9-10).
  • Omdat ons ons geloof in Christus gestel het, is ons regverdig verklaar en het ons vrede met God. Sy liefde is in ons harte uitgestort deur die gawe van die Heilige Gees (Romeine 5:1-5).
  • Dié wat hulp by die Here soek, sal nooit beskaamd staan of bang hoef te wees nie. Wanneer ons na Hom kyk, gloei ons en het ons alle rede om Hom te prys (Psalm 34:1-5).
  • Ons tydelike lyding loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Christus vernuwe ons van dag tot dag (2 Korintiërs 4:16-18).

Vriendin, jy mag gehawend wees, maar die Skandebreker sal nooit toelaat dat jy heeltemal gedemoraliseer word nie. Jy is miskien verbouereerd oor die gebrokenheid in hierdie gevalle wêreld, maar sy hoop in jou binneste keer dat jy nie in ‘n put van wanhoop val nie. Die probleme van hierdie wêreld kan jou tydelik onderdruk, en jy moet miskien gekneus en moeg opstaan, maar jou God sal altyd jou verdediging wees. Hy sal jou nie vir ‘n oomblik verlaat nie.

God het redding oor jou lewe gespreek, en skande het nie die laaste sê nie. Die volgende keer as jy die stem van skande jou naam hoor roep, kan jy op God se beloftes staan ​​en sê: ‘Ek is nie verlate nie. Ek is ‘n kind van God.”

Die Een wat jou van skande verlos, het jou oordek met genade en jou sy geliefde genoem.