Dit is ‘n betroubare woord:

As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe;

as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer;

as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën;

as ons ontrou is – Hy bly getrou;

Hy kan Homself nie verloën nie.

–2 Timoteus 2:11-13

Sal jy ‘n vriendin se aanbod om vir jou middagete te koop van die hand wys en haar in haar eer krenk? Ek maak my beslis daaraan skuldig met ‘n haastige “Nee, nee! Jy hoef regtig nie! Ek sal regkom, dankie”. En dan loop dit uit op die berugte debietkaartgeskil tussen jou, jou vriendin en die assistent agter die toonbank.

So ‘n spesifieke insident het hom afgespeel tussen my en ‘n vriendin wat vir my ete wou betaal. Toe ek ‘n stokkie voor haar plan wou steek, was haar antwoord: “Moenie my van die kans ontneem om jou te seën nie.”

Haar reaksie het my in my spore gestuit.  Teen so ‘n goed bewoorde antwoord het ek geen verweer gehad nie.

Hoekom is dit vir ons so moeilik om te ontvang?

Ek sien hoe hierdie stryd om te ontvang afspeel terwyl ons ons koppe probeer kry om die grootste skuld wat ooit namens ons betaal is: die vergewing van ons sonde. Die vergewing van ons sondes in die verlede asook die sondes wat ons nog gáán doen.

Ons het aangejaag. Ons hou aan om te sondig. Ons maak foute. God het die prys vir ons betaal en Hy kyk na ons en sê: “Onskuldig!”

Die oomblik wanneer ons ons lewe aan die Here oorgee, word ons ‘n dogter van die Koning. Ons is Syne. Ons ontvang sy vergifnis wanneer ons tot inkeer kom en dit aanvaar.

Hoe ons ook al mag voel, as ons nie Christus se vergifnis wil aanvaar nie, ontken ons dat sy werk aan die kruis voldoende betaling vir ons sondes was. Gevoelens kan ‘n goeie doel dien, veral daardie voorgevoel wat ons in ‘n slegte situasie kry. Dit kan egter baie gevaarlik wees as ons toelaat dat ons emosies vir ons voorskryf wie ons is.

Dit het my laat besef dat die weiering om ‘n geskenk te aanvaar nie noodwendig van ‘n nederige houding getuig nie. My vriendin het tereg gesê dat ek haar in der waarheid ontneem het van iets wat sy in gehoorsaamheid wou doen. As ons nie die Here se vergifnis aanvaar nie, gaan dit dalk meer om ons gevoelens. Dit kan moontlik gewortel wees in gedagtes en gevoelens dat ons ongeliefd en onwaardig is of selfs dat wat ons gedoen het, onvergeeflik is.

Daarom is dit so belangrik dat ons ons gedagtes met die waarheid vul. Ons kan ons onwillige harte leer om sagter te word wanneer ons ons sonde erken, om vergifnis vra en glo dat ons vergewe is. Die lewe is te kort om onnodige bagasie saam te sleep. Soms is ons ons eie grootste vyand as ons bly vasklou aan dit waarvoor die Here reeds betaal het.

Selfs Petrus, wat die Here verloën het terwyl Hy tereggestaan het, is vergewe. Dit is nie al nie, Petrus is deur Jesus verwelkom en met Hom versoen. Jesus het Petrus nie toegelaat om in sy skande of wanhoop vasgevang te bly nie. Hy het geweet hoeveel Petrus nog vir sy naam sou moes doen (en ly). Wie weet hoe baie sou nooit die evangelieboodskap gehoor het as Petrus te lank in sy skande vasgevang sou bly nie!

Dit maak nie saak wat ons doen nie, Hy sal ons nooit verloën nie. Hy het ons vrygemaak en Hy begeer om ons met Hom te versoen, ongeag wat ons gedoen het. My gebed is dat ons almal tot inkeer sal kom en waarlik die geskenk van vergifnis en genade sal aanvaar. Dan sal ons ontdek wat ware vryheid is en anders begin lewe. God wil nie hê ons moet in daardie skande bly leef nie. Hy wil hê dat ons na Hom toe moet kom en om vergifnis vra. Dit het nooit daaroor gegaan dat ons onsself vergewe nie, maar oor sy geskenk van vergifnis aan ons. Die prys is betaal. Ons is vrygemaak!