Ek hou baie van die verhaal van Bartimeus in Markus 10:46-52.

Bartimeus was ‘n blinde man, ‘n bedelaar wat langs die pad gesit het toe Jesus en sy dissipels daar verbygeloop het. Bartimeus was ‘n man wie se lewe deur skande gekenmerk was. Gedurende daardie tydsperiode was gestremdhede redes om mense te verstoot, eerder as om vir hulle te sorg. Nie net dit nie, maar om te bedel vir kos en geld was nie ‘n posisie waarvoor mense agting gehad het nie. Tog het die Messias – die Koning van die wêreld – vir Bartimeus gesien en gekies om, uit ‘n groot skare, na sy stem te luister. Baie mense in die skare het probeer om Bartimeus stil te maak, omdat hulle gedink het dat sy stem nie waardig was om gehoor te word nie, maar Jesus het stil gaan staan en sy dissipels gevra om die man na Hom toe te laat kom.

Jesus, die een van wie ons hulp kom, het Bartimeus gesien, ‘n man gemerk deur skande en blindheid, hom genees en hom geroep tot ‘n nuwe identiteit in Hom. Hy het gegaan van ‘n lewe van skande, tot ‘n lewe in Christus.

Wat Jesus vir Bartimeus gedoen het, doen Hy ook vir ons.

Elkeen van ons het unieke verhale, met ons eie hartseer en skande. Ons almal het sonde en oomblikke wat ons graag wil vergeet. Wanneer ons toelaat dat skande ons beheer, wanneer ons dit toelaat om die sterkste stem in ons gedagtes te hê en ‘n vashouplek op ons harte te hê, laat ons toe dat Satan ons daarvan weerhou om ‘n ontluikende geloof, soos wat Bartimeus gehad het, te wys.

Wat doen ons om te skande wat ons teister, te beveg?

Hebreërs 12:2 sê: “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder ommvir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterhand van die troon van God.”

Ons vestig ons oë op Jesus en onthou dat Hy ook skande verduur het. Die skande wat Hy verduur het was om vir ons geloof en die ewige lewe saam met Hom te gee. Sy werk aan die kruis het betaal vir elke slegte ding wat ons gedoen het en vir elke slegte ding wat aan ons gedoen is. Hy het vir ons skande betaal en in die plek daarvan vir ons die geskenk van geloof gegee, sodat ons soos Bartimeus ons skande kan verruil vir ‘n lewe in Christus.

Een van my gunsteling verse in Psalms sê: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” (Psalm 121:1-2).

Wanneer skande ons oorval, wanneer die wêreld of skares vir ons iets anders vertel, moet ons doen wat Bartimeus gedoen het: ons kyk na Jesus. Ons roep uit na Hom. Ons doen presies wat die skrywer van Psalms in Psalm 121 gedoen het. Ons kyk na daardie heuwel op Golgota en weet presies waar ons hulp vandaan kom: die Here God, die Skepper van die hemel en die aarde. Ons onthou dat die Verlosser van die wêreld ons genadig was en ‘n skandelike dood verduur het sodat ons ons skande kon afgooi en seuns en dogters van God, die Allerhoogste kan word. Dit is ons lofsang. Dit is ons lied. Dit is hierdie lied van geloof wat ons vryheid van skande gee en die vryheid om lewens wat diep in Christus gevestig is, te leef.

Dierbare vriendinne, mag jou geloof vandag groter wees as jou skande. As dit nie is nie, mag jy rus in die wete dat jou identiteit in Hom groter is as enige iets anders wat poog om ons te definieër – veral ons skande.