Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien. – Hebreërs 11:26-27

Een van die grootste gevare wat ek deesdae in ons Christelike kultuur bespeur, is die voortgesette invloed van die Welvaartsevangelie. Die leer en oortuiging dat, as jy jou lewe vir die Here leef, dan sal Hy jou seën met voorspoed, gesondheid en gerief. Lees ‘n mens egter self die Bybel en bestudeer die lewens van diegene wat hulle lewens getrou aan ons Here geleef het, dan sien ons dat hulle gewone mans en vroue was wat vervolging in hulle lewe moes verduur en daagliks van Hom afhanklik was en aan sy beloftes vasgehou het. Hulle het die versoeking van die wêreld weerstaan om iets anders voor te gee as wat hulle werklik was: volkome afhanklik van Hom.

Moses is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan. Hy het in ‘n Egiptiese koningshuis grootgeword, hy kon net sy vingers klap. As aangenome seun van ‘n Egiptiese prinses kon Moses ‘n maklike lewe gehad het, ‘n lewe van gemak, mag en rykdom. Tog het hy, nadat hy beleef het wat die wêreld aan hom bied, na sy ware erfenis teruggekeer en sy paleis en gemaklike lewe vaarwel toegeroep.

Waarom? Ons sien die antwoord in Hebreërs 11:26: “Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte omdat hy na die beloning uitgesien het.”

Moses, wat het alles gehad wat die wêreld kon bied, het geweet hoe oppervlakkig die wêreld se skatte is en het ware ewige skatte bo die tydelike rykdom begeer. Daarom het hy ‘n besluit gemaak en sy oë op God in plaas van die wêreld gevestig, en daardie besluit het ‘n totale ommekeer in sy lewe meegebring.

Moses het sy lewe van wêreldse voorrang verlaat en nooit weer teruggekyk nie. Hy het na ware vryheid, die vryheid wat net in God gevind kan word, verlang.

Moses het getrouheid bo finansiële stabiliteit gekies. Ek wonder soms hoeveel invloed sy biologiese ouers as jong kind op hom gehad het voordat hulle hom in geloof in die Nylrivier gesit het om hom te beskerm, en sy lewe aan God toevertrou het.

Ons sien in vers 27 dat Moses, net soos sy Israelitiese ouers, ‘n man geword het wat deur geloof leef. Deur geloof het Moses Egipte agtergelaat en na vore getree as iemand wat God met die onbekende vertrou.

Ek is oortuig dat baie van ons ook nou by ‘n kruispad is. Gaan ons in geloof en vertroue in God vorentoe en hou aan sy beloftes vas of is ons tevrede om in ons “Egipte”-lande te bly en tydelike bo ewige rykdom te kies?

Soos Moses, moet ons ons oë op die ewige beloning vestig ongeag wat dit kos. Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie. Mag ons nie soos die geslag Israeliete wees wat Moses uit Egipte help bevry het maar na hulle ou leefwyse in plaas van hulle nuwe vryheid in God gehunker het nie. Hulle was ‘n geslag mense wat volgehou het om God te betwyfel en aan sy getrouheid te twyfel. Ofskoon hulle God se verstommende wonderwerke gesien het, het hulle tragies, toe die tyd vir hulle aanbreek om hulle langbeloofde land binne te gaan, steeds aan sy vermoë om hulle te beskerm, getwyfel. Mag ons uit hulle foute leer en eerder leer om lewens van geloof te leef. Mag ons, soos Moses, ons oë vestig op wat regtig saak maak en met vrymoedigheid voortgaan met die wete dat God elke tree van die pad by ons is. Dit beteken nie dat ons nie reuse in die nuwe lande sal teëkom nie, maar dit beteken dat ons hulle nie alleen hoef te trotseer nie.

“Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” – Josua 1:9

Hê God Groots Lief!