“Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.” 3 Johannes 4

‘n Paar jaar gelede kry ek ‘n oproep van ‘n mentor wat ek op universiteit gehad het, nadat ons jare lank nie kontak gehad het nie.  Ons was ongelooflik geheg aan mekaar tydens my voorgraadse jare, maar na universiteit het ons albei se lewens so besig geraak.  Ek het weggetrek, getrou, ‘n gesin gehad en na meer as ‘n dekade in verskillende state – buiten ‘n kerskaartjie en af en toe ‘n epos – het ons nie meer gereeld gesels nie. Elke paar jaar het ons ingehaal op al die groot gebeure in ons lewens en dan het ek my weer in haar wysheid verdiep.

Op ‘n dag, na een van ons inhaal-sessies, het ek ‘n epos van haar oopgemaak en hierdie lewegewende woorde gelees: “Ek is so trots op die manier waarop jy kies om jou lewe te leef.” My oë het vol trane geskiet en dit het oor my wange gerol toe hierdie woorde, ryk aan die liefde van ‘n mentor, lewe oor my spreek.

Sy het haar leiding, haar dissipelskap en haar opoffering van tyd en hulpbronne as ‘n belegging van liefde in my lewe beskou. En as gevolg van haar liefde vir die Here en haar liefde vir my, loop ek na al die jare steeds met die Here (onvolmaak), maar streef daarna om my lewe te leef volgens die waarheid.

Ek hou van hoe Jesus se woorde in die Groot Opdrag vir ons sê dat ons geroep is om waar ons gaan, dissipels te maak, “doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek [ons hemelse Vader] julle beveel het”(Matteus 28: 19-20).

3 Johannes 4 wys vir ons die skoonheid wat volg op die gehoorsaamheid aan die Groot Opdrag: “Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.” Daar is pure vreugde daarin om te weet dat jou werk vir die koninkryk goeie vrugte opgelewer het. Dit verskaf ‘n diep tevredenheid om te weet dat die werk wat ons vandag doen, die liefde wat ons met ander deel, eendag sal wortel skiet en iets getrou en waar sal daaruit groei.

Want is dit nie die weg van die dissipel nie?

Om die diep rykdom van God se liefde te ken, om dit gedurende die beginjare van ons geloof gewys en geleer te word, om toe te laat dat dit ons lewens verander in iets moois – en om dan eendag dié een te wees wat die hand van ‘n persoon wat nog jonk in hul geloof is, te neem en hulle te help om die vreugdes en hartseer van hierdie lewe te navigeer nie?

Om ‘n dissipel van Jesus te wees, is om ook ‘n dissipelmaker te wees – en dit is ‘n goeie en lewegewende roeping, ons intense aandag waardig.

Jare later modelleer ek nou die verhouding wat ek met my mentor gehad het. Oor koppies koffie en oop Bybels, ontmoet ek studente-meisies in my kerk. Ons praat oor die lewe, sonde, verhoudings, loopbaankeuses – noem maar op! Soms praat ons spesifiek oor die Skrif, ander kere deel ons dit wat in ons lewens aangaan. En ek loop gereeld weg en bid: “Vader, hou haar naby U. Laat hierdie oomblikke nie doelloos wees nie. Help haar om u groot liefde vir haar raak te sien en dit toe te laat om haar lewe vir altyd te verander.”

Ek het nog nie die bevrediging om die vrugte wat God in hulle lewe groei, te sien nie, maar wat ek wel weet, is hierdie – die groot liefde waartoe God ons geroep het, is een wat ek nie vir myself kan hou nie. En ek is vol vertroue hierin, die Een wat die goeie werk in hulle begin het, sal dit voltooi (Filippense 1: 6). Ek sien uit na die dag wanneer ek vir hulle ‘n epos kan stuur en sê: “Ek is so trots op die manier waarop jy kies om jou lewe te leef.”