Was daar al ooit ‘n tyd in jou lewe dat dit vir jou gevoel het asof jy van geleende moed of geloof leef? Het jy al ooit ‘n gesprek met ‘n vriend of vriendin aangeknoop terwyl jou hoop maar laag was, en dan voel jy aan die einde daarvan geestelik vernuwe? Of dalk was jy by ‘n laagtepunt toe ‘n vriendin opgedaag en hulp verleen het?

Ek het oorkant ‘n liewe vriendin gesit met ‘n beker koffie in die hand en gebieg, “Ek twyfel of die Here enigiets goeds hieruit kan laat voortkom.” Ek het geweet God is goed in alles en ek het geweet dat Hy enige gebroke hart kan heelmaak, maar met my menslike oë kon ek net nie sien hoe Hy dit gaan regkry nie.

My vriendin het oor die tafel gestrek, haar hand op my arm gesit en gesê, “My geloof is sterk genoeg vir ons albei.”

Wanneer jy die laaste hoofstuk van Handelinge lees, kom so ‘n oomblik by ‘n mens op. Paulus kom in Rome aan nadat hy skipbreuk gely, gevange geneem en selfs geslaan is, en wat sê die Skrif vir ons?

Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.” – Handelinge 28:15

Die oomblik toe Paulus sy broers en susters sien, het hy moed geskep en God gedank. Paulus “het moed gekep”. Ek hou daarvan. Die blote aanwesigheid van samehorigheid – sy broers en susters – het vir Paulus die moed gegee om voort te gaan. Dit het hom sy Skepper laat dank. Dan sien ons die vrug van daardie bemoediging: Paulus het dadelik weer begin om die Goeie Nuus van Jesus te verkondig.

Paulus het ‘n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur het, en hy het almal ontvang wat hom kom besoek het. Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.” – Handelinge 28:30-31

Paulus se vreeslose verkondiging van die Koninkryk van God is aangevuur deur lieflike        Christen-samehorigheid. 

Vriendinne, weet verseker: Die gawe van goddelike gemeenskap is ‘n krag om mee rekening te hou. Juis wanneer jy op jou laagste is, uitgeput deur swaarkry, moet jy jou na jou broers en susters in Christus wend. Wanneer jy nie kan sien hoe God jou uit daardie moeilike situasie gaan kry nie, moenie jouself isoleer nie – leen moed en geloof by jou susters in Christus. Jy mag dalk nie dadelik ‘n verskil agterkom nie, maar ware Christen-gemeenskap sal jou nie net deurdra nie, dit sal jou die vrymoedigheid gee om God se goedheid selfs midde-in ‘n storm te verkondig.

Ek skryf nie nou uit ‘n verhewe posisie nie, maar vanuit my laagste punt. Die waarheid is dat ek nie kon sien hoe God in die puin van my lewe kon werk nie. Maar my vriendin was reg. Sy het oor die tafel gestrek, my arm vasgegryp en vir my moed en geloof by haar laat leen. ‘n Saad van hoop is daardie dag geplant en dit het tot ‘n pragtige verlossingsverhaal gegroei. God het nie gewerk soos ek verwag het Hy sou nie, maar Hy het iets pragtigs saamgeweef wat sy goedheid en sy evangelieverhaal weerspieël. My lewe getuig van die goedheid wat Christen-gemeenskap te midde van die storms van die lewe kan meebring. Toe my geloof uitgeput was, het die geloof van ‘n dierbare suster my gedra.

Mag ons met die afsluiting van die boek Handelinge, sien hoe God nie net vir Paulus gebruik het nie, maar dat Hy sy mense gebruik om sy Goeie Nuus te verkondig. Mag ons sien wat die Here deur sy mense vermag het en begeester word om deel te wees van ‘n Christen-gemeenskap. Mag ons getroue broers en susters wees wat oor die tafel strek en verklaar, “Leen by my geloof. Ek het genoeg vir ons albei,” wanneer dit ook al ons beurt is om te bemoedig.